Die Sentrale Party, ook bekend as die Roosiete, was 'n politieke party van 1933 tot 1935 wat gestig is deur adv. Tielman Roos om sy steun, wat hy geniet het weens sy oorreding van die regering om van die goudstandaard afstand te doen, te konsolideer.
Twintig kandidate het hulself tydens die verkiesing van 17 Mei 1933 as Roosiet-kandidate verkiesbaar gestel. Net twee was suksesvol en die party kry net 23 723 stemme, oftewel 7,3% van die totaal. Die koalisie wat ná die verkiesing die Verenigde Party sou stig, wen oorweldigend.
Ten einde die steun in die verkiesing te konsolideer, stig adv. Roos op 12 Mei 1934 die Sentrale Party, maar dit ontbind op 9 Maart 1935 weens 'n gebrek aan steun.