Our website is made possible by displaying online advertisements to our visitors.
Please consider supporting us by disabling your ad blocker.
Tektosilikaat
'n Tektosilikaat is 'n silikaat wat deur die deling van al vier suurstofatome van die SiO4-tetraëders gekenmerk word.[1] Hierdeur verkry die mineraal 'n driedimensionale netwerkstruktuur. Die mees bekende voorbeeld is kwarts en sy nege polimorfe. In hierdie stowwe is die Si:O-verhouding 1:2. Ander voorbeelde is Chalsedoon, Crisopraas, Agaat en Oniks.[2]
Byna 75% van die aardkors bestaan uit minerale van die tektosilikaatklas.[3]
Hierdie klas word dikwels ook die "raamwerksilikate" genoem omdat die struktuur daarvan saamgestel is uit onderling gekoppelde tetraëders wat in alle rigtings uitwaarts gaan. Dit vorm 'n ingewikkelde raamwerk wat analoog aan die raamwerk van groot geboue is. In hierdie subklas word al die suurstof met ander tetraëders gedeel wat 'n silikon-tot-suurstofverhouding van 1:2 gee.[4]
In die suiwer toestand van slegs silikon en suurstof betref dit die mineraal kwartsSiO2. Maar die tektosilikate omvat baie meer. Dit blyk dat die aluminiumioon maklik die silikonioon in die tetraëders kan vervang. In ander subklasse kom dit in 'n beperkte mate voor, maar in die tektosilikate is dit 'n hoofbasis van die verskillende strukture. Terwyl die tetraëder amper dieselfde is met 'n aluminium in sy middel, is die lading nou 'n negatiewe vyf (-5) in plaas van die normale negatiewe vier (-4). Aangesien die lading in 'n kristal gebalanseer moet word, is addisionele katione soos yster, mangaan, kalsium, natrium ens. in die struktuur nodig en dit is die hoofrede vir die groot variasies binne hierdie subklas.[4]