Die Wilsonsiklus of superkontinentsiklus is in plaattektoniek die herhalende siklus waardeur die kontinente eers bymekaarkom en een superkontinent vorm en dan weer in fragmente opbreek. Die fragmente kom eindelik weer bymekaar en vorm 'n nuwe superkontinent. Daar is al voorgestel dat die Wilsonsiklus op Aarde sowat 3 miljard jaar gelede, in die Argeïese Eon, begin het.[1]
Die siklus is genoem na die Kanadese geofisikus John Tuzo Wilson (1908-1993), wat opgelet het die oseaankors is oor die algemeen veel jonger as die kontinentale kors. Hy het daaruit afgelei dat die oseaanbodem 'n kort lewensduur het in vergelyking met dié van die kontinente. Die oseaankors word telkens van voor af gevorm terwyl dit op ander plekke vernietig word, en so hernu dit homself voortdurend.