Winteroorlog | |||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Deel van Tweede Wêreldoorlog | |||||||||
Finse skitroepe in Noord-Finland, 12 Januarie 1940. | |||||||||
| |||||||||
Strydende partye | |||||||||
Finland
|
Sowjetunie
| ||||||||
Aanvoerders | |||||||||
Risto Ryti Carl Gustaf Emil Mannerheim Hjalmar Siilasvuo Harald Ohquist |
Josef Stalin Kirill Meretskof Kliment Worosjilof Semjon Timosjenko Otto Wille Kuusinen | ||||||||
Sterkte | |||||||||
337 000–346 500 soldate[1][2] 32 tenks[3] 114 vliegtuie[4] |
425 640–760 578 soldate[5] 2 514–6 541 tenks[6] 3 880 vliegtuie | ||||||||
Ongevalle en verliese | |||||||||
Totaal: 70 000 25 904 dood of vermis[7] 43 557 gewond[8] 1 000 gevangenes[9] 957 burgerlikes in lugaanvalle[7] 20–30 tenks 62 vliegtuie[10] |
Totaal: 323 000 126 875 dood of vermis[11] 188 671 gewond, beseer of verbrand[11] 5 572 gevangenes[12] 3 543 tenks[13][14][15] 261–515 vliegtuie[15][16] |
Winteroorlog |
---|
Tolvajärvi – Suomussalmi – Taipale – Summa – Raate-Road – Kuhmo – Honkaniemi – Kollaa – Salla – Petsamo |
Die Winteroorlog (Fins: talvisota, Sweeds: vinterkriget, Russies: Зимняя война (transliterasie: Zimnjaja woina); ook bekend as die Sowjet-Finse Oorlog 1939–1940 (Russies: Советско-финская война, Sowjetsko-finskaja woina 1939–1940)[17][18][19][20]) het uitgebreek toe die Sowjetunie Finland op 30 November 1939 aanval, drie maande na die begin van die Tweede Wêreldoorlog. As gevolg hiervan is die Sowjetunie op 14 Desember uit die Volkebond geskop. Die Sowjetleier, Josef Stalin, het verwag dat die hele land teen die einde van die jaar oorwin sou wees, maar die Finse weerstand was te sterk vir die Sowjetmagte, wat drie keer so groot was. Finland het uitgehou tot in Maart 1940, toe 'n vredesverdrag geteken is waarvolgens omtrent 11% van Finland se grondgebied en 30% van sy ekonomiese bates aan die Sowjetunie afgestaan is.
Die gevolge van die oorlog was gemeng. Alhoewel die Sowjetmagte uiteindelik deur die Finse verdediging kon breek, het nóg die Sowjetunie nóg Finland ongeskaad uit die konflik getree. Sowjetverliese aan die front was geweldig en die land se internasionale aansien het daaronder gely. Erger nog: die vegvermoë van die Rooi Leër is bevraagteken, wat bygedra het tot Hitler se besluit om Operasie Barbarossa van stapel te stuur. Op die ou einde het die Sowjetmagte nie in hulle hoofdoel geslaag om Finland te verower nie, maar hulle het aansienlik grond aan die Ladogameer gewen. Die Finne het hulle soewereiniteit behou en aansienlike internasionale guns gewen.
Die vredesverdrag van 15 Maart het Frans-Britse planne verydel om troepe deur Noord-Skandinawië te stuur om Finland te help. Die Geallieerde planne was ook daarop gemik om Duitse toegang tot Noord-Swede se ystererts te verhoed.
Duitsland se inval in Denemarke en Noorweë op 9 April 1940 (Operasie Weserübung) het daarna die wêreld se aandag afgelei na die stryd vir beheer oor Noorweë.
Die Winteroorlog was 'n militêre ramp vir die Sowjetunie. Stalin het egter uit die fiasko geleer en besef dat politieke beheer oor die Rooi Leër nie meer moontlik was nie. Na die oorlog het die Kremlin 'n proses begin waarvolgens gekwalifiseerde offisiere heraangestel is en die leër se magte gemoderniseer is, 'n besluit wat die Sowjetunie in staat sou stel om die Duitse inval die hoof te bied. Alhoewel dit nie spesifiek beproef is nie, was die leërs van Frankryk, Brittanje en die VSA waarskynlik ook nie gereed vir ’n winteroorlog nie. In die Ardenne-aanval teen die einde van 1944 is duisende Amerikaanse troepe byvoorbeeld gestrand gelaat deur weerstoestande wat matig was in vergelyking met dié van die Skandinawiese winter.