Brits-Irakkese argitek
Gebore
31 Oktober 1950
in Bagdad, Irak
Oorlede
31 Maart 2016 (op 65)
in Miami, Verenigde State
Skool
Neofuturistiese argitektuur
Dekonstruktivisme
Beduidende projekte
Bridge Pavilion in Zaragoza, Spanje
Maggie's Centre in Kirkcaldy, Fife
Contemporary Arts Center in Cincinnati, Ohio
Biblioteek en leersentrum, Universiteit van Ekonomie, Wene, Oostenryk
Toekennings en pryse
Pritzker-prys (VSA) in 2004
Royal Gold Medal (VK) in 2016
Dame Zaha Mohammad Hadid DBE (31 Oktober 1950 – 31 Maart 2016) (Arabies: زها حديد) was 'n Irakkees-gebore Britse ontwerper, argitek en professor in argitektuur asook stigter van die Londense argitektuurpraktyk Zaha Hadid Architects. Sy is deur vele as die mees vooraanstaande vroulike argitek van die laat 20ste en vroeë 21ste eeu beskou.[1]
Hadid is in Bagdad gebore en getoë en het haar akademiese opleiding in Beiroet en Londen ontvang. In die Britse hoofstad het sy die ateljee gevestig wat haar naam gedra het – Zaha Hadid Architects. Haar modernistiese en futuristiese ontwerpe sluit die Londense watersportsentrum (Aquatics Centre, 2011) in wat ter geleentheid van die Olimpiese Somerspele van 2012 ontstaan het, en die Cardiff Bay-operahuis in Wallis ('n projek wat uiteindelik nie uitgevoer is nie).
Haar ontwerpe is twee keer met die Stirling-prys bekroon, en sy was die eerste vrou wie se werk in 2004 met die Pritzker-prys vir argitektuur bekroon is – 'n prys waarna soms as die "Nobelprys van boukuns" verwys word.[2] Die beoordelaarspaneel het na haar as een van die mees begaafde beoefenaars van die kuns van argitektuur verwys en die "konsekwent oorspronklike en sterk persoonlike visie" gehuldig waarmee sy "die manier waarop ons ruimte sien en ervaar, verander het. [Haar] gefragmenteerde geometrie en vloeiende beweeglikheid skep nie net 'n abstrakte, dinamiese mooiheid nie: hierdie is 'n werk wat die wêreld waarin ons lewe, verken en vertolk."[3]