'n Elektriese isolator is 'n materiaal waarvan die interne elektriese lading nie vrylik beweeg nie en dit dus bykans onmoontlik maak om 'n elektriese stroom te gelei onder die invloed van 'n elektriese veld. Dit staan in kontras teenoor ander materiale, halfgeleiers en geleiers, wat elektriese stroom makliker gelei. Die eienskap wat die isolator onderskei is sy spesifieke weerstand; isolatore het 'n hoër weerstand as halfgeleiers en geleiers.
Daar bestaan nie 'n perfekte isolator nie aangesien alle isolatore 'n mate van beweeglike ladings (ladingdraers) bevat wat 'n stroom kan dra. Daarby word alle isolatore elektries geleidend wanneer 'n groot genoeg spanning aangewend word dat die elektriese veld elektrone wegskeur van die atome. Dit staan bekend as die deurslagspanning van 'n isolator. Sommige materiale soos glas, papier en teflon het 'n hoë weerstand en is baie goeie isolatore. Rubberagtige polimere en meeste plastiek is voldoende om as isolators gebruik te word in elektriese bedrading en kabels.
Isolatore word gebruik in elektriese toerusting om geleiers te ondersteun en van mekaar te skei sonder dat stroom deur die isolators kan beweeg. Die term isolator verwys ook spesifiek na isolerende steunpunte wat gebruik word om die transmissielyn aan die dienspale en transmissie torings te verbind. Dit dra die gewig van die hangdrade sonder dat die stroom deur die toring na die grond kan vloei.