Moses

<
F31S29S29
>
Moses
in hiërogliewe
Moses
Moses met die Tien Gebooie, skildery deur Rembrandt van Rijn, 1659
Gebore
Sterf
Berg Neob, Moab
NasionaliteitIsraeliet
Bekend virProfeet
EggenootSippora
'n Koesjitiese vrou[1]
KindersGersjom, Eliëzer
Ouer(s)Amram en Jogebed
Profeet Moses

Moses met die Tien Gebooie, skildery deur Jusepe de Ribera, 1638
Profeet, heilige, siener, wetgewer, apostel vir die farao, hervormer
Gebore Land Gosen, Benede-Egipte, Nuwe Ryk van Egipte
Sterfte , Berg Neob, Moab
Vereer in Judaïsme, Christendom, Islam, Baha’i-geloof
Feesdag 4 September (Oosters-Ortodokse Kerk en Rooms-Katolieke Kerk)
Attribute Tafels van die wet

Moses (Hebreeus: מֹשֶׁה, Mōšæ; Arabies: مُوسَى, Mūsā; Grieks: Μωυσῆς en Μωσῆς, Mō(y)sēs) is naas Abraham die tweede sentrale figuur in die geskiedenis van die volk Israel. Volgens die Bybel is hy die vernaamste profeet, wat die Israeliete uit Egipte gelei het. Hy word beskou as die stigter van die Israelitiese godsdiens en is volgens die Bybel die ontvanger van die Tien Gebooie op die berg Sinai. Moses was ook die aanvoerder van die volk Israel tydens die deurtog deur die woestyn tot aan die grense van Kanaän.

Moses is een van die belangrikste figure in die Joodse volksgeskiedenis en onder sy leiding is die Israeliete weggevoer uit die slawerny in Egipte na die beloofde land Kanaän, die land van hul voorvaders. Volgens die Bybelse geskiedenis het Moses op die berg Sinai die Tora van God ontvang.

Die lewensgeskiedenis van Moses word vertel in die Bybelboeke Sjemot/Eksodus tot en met Dwarim/Deuteronomium en is ten nouste verweef met die verhaal van die uittog van die Israeliete (Jode) uit Egipte. Moses is gebore op 'n tydstip toe die verdrukking van die Israeliete in Egipte 'n hoogtepunt bereik het, waarskynlik onder die bewind van farao Seti I (1318–1304 v.C.). Seti I het 'n wet uitgevaardig ingevolge waarvan alle Hebreeuse seuntjies wat gebore word, doodgemaak moes word.

Volgens oorlewering het Moses se ouers, Amram en Jogebed, hom aanvanklik in hul huis versteek en later in 'n mandjie van biesies langs die Nylrivier. Die farao se dogter, wat hier kom bad het, het Moses in sy mandjie gevind en hom saam met haar na die paleis gebring, waar hy as 'n Egiptiese prins grootgemaak is. Tydens 'n geskil tussen ’n Israelitiese slaaf en 'n Egiptenaar het Moses so woedend geword dat hy die Egiptenaar doodgeslaan en na Midian in die noorde van die Arabiese Skiereiland gevlug het.

Daar het hy die skaapwagter van die priester van Midian, Jetro (Réhuel), geword en met een van sy dogters, Sippora, getrou. Volgens die Bybelse verhaal het God op 'n dag in 'n brandende doringbos wat nie uitgebrand het nie (die brandende doringbos, Sjemot/Eksodus 3,2),[2] aan Moses verskyn. Hy het opdrag ontvang om sy volk uit die slawerny in Egipte te bevry.

Moses het homself as onbekwaam beskou vir hierdie bomenslike taak, maar God het hom verseker dat Hy altyd met Moses sou wees deur Hom bekend te maak as JHWH. In Egipte het Moses kwaai weerstand van die farao (waarskynlik Ramses II, 1290–1224 v.C.) ondervind. Met die hulp van God, wat tien plae oor Egipte laat kom het, en met die bystand van sy broer Aäron het Moses daarin geslaag om sy opdrag uit te voer.

By die berg Sinaï (of Horeb), waar Moses die opdrag ontvang het om sy volk te bevry, het die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die Joodse volk plaasgevind: God het aan die Joodse volk sy wil bekend gemaak deur aan hulle die Tora te gee. Volgens die Bybelse verhaal het Moses by hierdie openbaring 'n sentrale rol gespeel: God het met hom gepraat omdat die volk die aanblik van God nie sou kon verduur nie. God het twee kliptafels waarop die Tien Woorde geskryf gestaan het, aan Moses gegee sodat hy die volk kon onderrig.

Moses was die geestelike leier van die volk en is ook later Mosje Rabbenoe ("Moses, ons leraar") genoem. Hierin lê die verskil tussen Moses as die eerste profeet en die latere profete. Die volk het uit die hand van Moses die Tora ontvang en hy het 'n klomp slawe saamgesnoer tot 'n volk wat tot vandag toe sy identiteit behou het. Latere profete het in hul vermaninge en aansporinge steeds na Moses en sy werk terugverwys.

Moses moes voortdurend vir sy volk intree by God wanneer hulle verkeerd gedoen, in afgodery teruggeval en in opstand gekom het. Na 'n omswerwing van 40 jaar het Moses die volk tot op die grens van die beloofde land gebring. Hier het hy die leiding aan sy vertroueling Josua oorgedra en kort daarna gesterf. "Hy het vir Moses begrawe in 'n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor, maar tot nou toe weet niemand waar sy graf is nie." (Dwarim/Deuteronomium 34,6).[3]

  1. (af) "Numeri 12,1". Bybel: Numeri. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 14 Desember 2022. Mirjam en Aäron het vir Moses aangespreek oor die Kussitiese vrou wat hy gevat het, want hy het met 'n Kussitiese vrou getrou.
  2. (af) "Eksodus 3,2". Bybel: Eksodus. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 14 Desember 2022. Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vlam binne-in 'n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie.
  3. (af) "Deuteronomium 34,6". Bybel: Deuteronomium. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 14 Desember 2022. Hy het vir Moses begrawe in 'n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor, maar tot nou toe weet niemand waar sy graf is nie.

Moses

Dodaje.pl - Ogłoszenia lokalne