Die Ptolemeïese stelsel of wêreldmodel. Afbeelding uit Andreas Cellarius se Harmonia Macrocosmica (1660/61)
Almagest
Skrywer
Claudius Ptolemeus (omstreeks 100-180)
Die 13 boeke van die Almagest
Almagest (Grieks: μαθηματική σύνταξις, Arabies: المجسطي al-maǧisṭī) is 'n wiskundige en sterrekundige verhandeling in dertien boekdele wat in die 2de eeu deur die Hellenisties-Griekse geleerde Claudius Ptolemeus in die destydse Romeinse provinsie Egipte saamgestel is. Almagest bevat 'n beskrywing van die heelal se geosentriese stelsel en 'n sterrekatalogus.
Almagest is nie net een van die hoofwerke van die antieke sterrekunde nie, maar word as een van die invloedrykste wetenskaplike tekste beskou wat ooit geskryf is. Die geosentriese model, wat sy oorspronge in die Hellenistiese metropool Alexandrië, die Middeleeuse Bisantynse Ryk en die Goue Tydperk van Islam het, is meer as twaalf eeue lank as grondleggende teorie aanvaar.[1]
Die boek dien daarnaas as die belangrikste historiese bron oor antieke Griekse sterrekunde, maar word ook deur studente in wiskunde gewaardeer aangesien dit die verlore werk van die Griekse wiskundige Hipparchos dokumenteer.