Die Atomium is 'n monument in die Belgiese hoofstad Brussel. Die Atomium is, saam met die Manneken Pis en die Groot Markplein van Brussel, een van die stad se gewildste landmerke. CNN het dit as Europa se mees bisarre gebou aangewys.[1]
Die gebou is oorspronklik vir die Brusselse Wêreldtentoonstelling van 1958, die sogenaamde Expo 58, opgerig. Dit is deur die ingenieur Mozart en argitekte André en Jean Polak[2] ontwerp. Die struktuur is 102 m hoog. Die nege 18 meter breë sfere van vlekvrye staal is met mekaar verbind om die struktuur van 'n ysterkristal wat 165 miljard keer vergroot is te vorm.
Buise verbind die sfere langs die 12 sye van die kubiese struktuur en die hoekpunte is met 8 buise na die middelste sfeer verbind. Die buise bevat roltrappe en 'n hysbak wat toegang tot die uitstalruimtes en ander openbare ruimtes in die sfere verleen. Die boonste sfeer bied 'n panoramiese uitsig oor Brussel.
Die gebou sou volgens die oorspronklike plan vir ses maande gebruik en daarna gesloop word. Na die tentoonstelling word egter besluit om die gebou, wat ondertussen baie gewild en bekend geword het, so te laat.