Die balalaika (Russies: балалайка, uitgespreek [bəlɐlajkə]) is ’n Russiese musiekinstrument met ’n kenmerkende driehoekige klankkas en drie snare. Twee snare is gewoonlik dieselfde gestem en die derde een ’n kwart hoër. Laasgenoemde word gebruik om melodieë en akkoorde te speel. Die instrument word dikwels vir Russiese volksmusiek en -danse gebruik.
Die balalaikafamilie sluit instrumente van verskillende groottes in. Van die hoogste tot die laagste toonhoogte is hulle die piccolo, prima, secunda, alt, bas en kontrabas.
Sommige orkeste bestaan slegs uit verskillende balalaikas; hulle speel gewoonlik klassieke musiek wat spesiaal vir die balalaika geskryf is. Die primabalalaika is die algemeenste en die piccolo is skaars. Almal is driehoekig en van hout, gewoonlik esdoring, gemaak.
Die prima-, secunda- en altbalalaika word óf met die vingers óf met ’n plektrum gespeel, na gelang van die musiek. Die bas en kontrabas, wat op pote op die grond staan, word met leerplektrums gespeel. Die skaars piccolo word gewoonlik met ’n plektrum gespeel.[1]