Deel van ’n reeks oor die |
Wêreldgeskiedenis en voorgeskiedenis |
---|
↑ Voor Homo (Plioseen-epog) |
Voorgeskiedenis (drietydperkstelsel) |
Aangetekende geskiedenis |
↓ Toekoms (Holoseen-epog) |
Die Bronstydperk is 'n tydperk in die geskiedenis wat daardeur gekenmerk word dat die mens met koper- en bronswerktuie begin werk het, eerder as met klipwerktuie. Beskawings het begin vorm, mense het in stede begin saamwoon en skrif het as kommunikasiemiddel begin ontwikkel. Dit is die tweede van die drie tydperke waarin die vroeë geskiedenis van die mens ingedeel is; dit val tussen die Steen- en Ystertydperk.
’n Antieke beskawing word as deel van die Bronstydperk beskou as hulle óf self brons vervaardig het deur koper te smelt en met tin, arseen of ander metale te meng óf as hulle met bronsvervaardigende beskawings handel gedryf het om bronsvoorwerpe te kry. Brons is harder en duursamer as ander metale wat in dié tyd beskikbaar was, en dit het beskawings van die Bronstydperk ’n tegnologiese voorsprong gegee.
Hoewel aardyster algemeen voorkom, het die hoë smeltpunt daarvan, 1 538 °C, dit buite die bereik geplaas van algemene gebruik tot die einde van die tweede millennium v.C. Vanweë tin se lae smeltpunt van 231,9 °C en koper se relatief gemiddelde smeltpunt van 1 085 °C kon die mense van die Neolitikum daarmee werk – die droogoonde van omstreeks 6000 v.C. kon tot temperature van meer as 900 °C verhit word.[1]
Hoewel die Ystertydperk gewoonlik op die Bronstydperk gevolg het, het die Ystertydperk in sommige gebiede, soos Afrika suid van die Sahara, so vroeg as 2500 v.C. begin.[2]
Kulture van die Bronstydperk het skrif op verskillende maniere ontwikkel. Volgens argeologiese bewyse het kulture in Mesopotamië (wigskrif) en Egipte (hiërogliewe) die vroegste praktiese skryfstelsels ontwikkel.