in Charlottenburg
Berlyn, Duitsland
Ontstaantyd
1695-1713
Boustyle
Barok en Rokoko
Argitek
Johann Arnold Nering (1659-1695)
Bestuur deur
Stiftung Preußische Schlösser und Gärten Berlin-Brandenburg
Webtuiste
Charlottenburg-kasteel
Die Charlottenburg-kasteel (Duits: Schloss Charlottenburg) is die grootste kasteel in Berlyn en die enigste koninklike paleis in die Duitse hoofstad wat nog uit die tyd van die Hohenzollern-dinastie dateer. Die kasteel is in die gelyknamige stadsdeel van die administratiewe distrik Charlottenburg-Wilmersdorf geleë.
Die kasteel het teen die einde van die 17de eeu ontstaan en is in die volgende eeu grootliks uitgebrei, met eksotiese binneversierings in die Barok- en Rokoko-style. Aan die kasteel se agterkant is 'n uitgestrekte formele tuin aangelê wat deur 'n bosgebied omring word. Hier het 'n belvedere, 'n mausoleum, 'n teater en 'n pawiljoen ontstaan. Die kasteel is gedurende die Tweede Wêreldoorlog ernstig beskadig, maar later heropgebou. Die kasteel en sy tuin is een van Berlyn se vernaamste toeriste-aantreklikhede.