Cumulo- beteken "hoop" of "stapel" in Latyn. Cumuluswolke word dikwels beskryf as "pofferig", "donsig" of dat dit soos watte lyk en dit word gekenmerk deur die plat onderkant. Omdat cumuluswolke laagliggende wolke is, is dit gewoonlik minder as 1 000 m van die grond af. Die uitsondering is die vertikale cumulus congestus-wolktipe. Cumuluswolke kan op hul eie voorkom, of in 'n lyn of groep wolke.
Wanneer sekere omstandighede soos atmosferiese onstabiliteit, vogtigheid en 'n vinnige verandering in temperatuur voorkom, is Cumuluswolke dikwels die voorlopers van ander tipe wolke soos cumulonimbus. Gewoonlik sorg cumuluswolke nie vir enige neerslag nie, maar dit kan ontwikkel in cumulonimbuswolke, wat reëndraend is. Cumuluswolke kan gevorm word deur waterdamp, waterdruppels wat ekstra vinnig afkoel of yskristalle, na gelang van die omgewingstemperatuur. Dit kom voor in baie duidelike subvorms en koel die aarde gewoonlik af omdat dit die inkomende sonstraling weerkaats. Cumuluswolke is deel van 'n groter kategorie van vrye-konvektiewe cumuliformwolke wat cumulonimbuswolke insluit. Die laasgenoemde groep word soms afsonderlik gegroepeer as cumulonimbiform weens die meer komplekse strukture wat soms rankvormig is of ook die vorm van 'n aambeeld kan aanneem.[1]