Wapen | Ligging in Duitsland |
---|---|
Basiese gegewens | |
Deelstaat: | Brandenburg |
Administratiewe setel: | Lübben (Spreewald) |
Oppervlakte: | 2 261,09 vk km |
Bevolking: | 169 067[1] (31 Desember 2018) |
Bevolkingsdigtheid: | 74 inwoners per vk km |
Kenteken: | LDS |
Administratiewe verdeling: | 37 munisipaliteite |
Landrat: | Stephan Loge (SPD) |
Amptelike webwerf: | dahme-spreewald.de |
Ligging in Brandenburg | |
Dahme-Spreewald (amptelik: Landkreis Dahme-Spreewald, Neder-Sorbies Wokrejs Dubja-Błota) is 'n administratiewe distrik in die suidooste van die Duitse deelstaat Brandenburg. Die distrik strek van die suidoostelike stadsgrens van Berlyn tot in die Spreewald en die uitlopers van die Lae Fläming (Niederer Fläming).
Die distrik Dahme-Spreewald is ingevolge administratiewe hervormings amptelik op 6 Desember 1993 gevorm met die samesmelting van drie kleiner vroeëre distrikte (Königs Wusterhausen, Luckau en Lübben), drie stede (Lieberose, Märkisch Buchholz en Golßen) en tien nedersettings (Blasdorf, Doberburg, Jamlitz, Leeskow, Plattkow, Speichrow, Telz, Trebitz, Ullersdorf en Wernsdorf).
Die voormalige lughawe Berlyn-Schönefeld (tans die snelste groeiende in Duitsland met 12,7 miljoen passasiers in 2018[3]) is hier buite die nedersetting Schönefeld geleë, net soos die nuwe lughawe Berlyn-Brandenburg Internasionale Lughawe wat op 31 Oktober 2020 geopen is. Die suide van Dahme-Spreewald het 'n sterk agrariese karakter as een van die belangrikste produsente van groente in Duitsland wat onder die internasionaal beskermde handelsmerk Spreewald bemark word, terwyl ook toerisme 'n belangrike bron van inkomste geword het, onder meer danksy die groeiende gewildheid van plaasvakansies.