Die dinamoteorie is 'n wetenskaplike teorie wat probeer verklaar waarom sommige hemelliggame 'n magnetosfeer het. Die teorie geld veral vir die Aarde, maar kan ook vir ander planete en mane gebruik word.
By 'n dinamo lei die beweging van 'n geleidende massa in die aanwesigheid van 'n magneetveld tot die instandhouding van dié magneetveld. Volgens die dinamoteorie hou die aanwesigheid van geleidende vloeistowwe of gasse soos die vloeibare metaalbuitekern en vaste binnekern van die Aarde, of die geïoniseerde gas van die Son, die bepaalde magnetosfere in stand.
Deur magnetohidrodinamiese vergelykings te gebruik kan ondersoek word hoe die stroming van geleidende materiale in die binnekant van planete of sterre die veld opwek. Tot nou toe is egter geen resultate van suksesvolle eksperimente gepubliseer wat die dinamoteorie ondersteun nie. Daar word onvoldoende begryp waarom die Aarde gedurende sy bestaan sy magneetveld behou het. Dit lyk ook of ander liggame, soos Mercurius en die Maan, 'n magneetveld het of gehad het, terwyl die teorie voorspel het dat dit nie moontlik is nie.[2]