Gesondheidsielkunde, ook bekend as mediese sielkunde, word gedefinieer as 'die studie van psigiologiese- en gedragsprosesse in gesondheid, siekte en gesondheidsorg'.[1] Die studie ondersoek die invloed wat geestesgesondheid en fisiese gesondheid op mekaar het. Dit is belangrik om te verstaan dat die verstand en die liggaam nie twee afsonderlike entiteite is nie, maar in noue wisselwerking met mekaar is. Die brein en die liggaam kommunikeer aanhoudend met mekaar deur chemiese en fisiese boodskappers, soos hormone en neuro-oordragstowwe. Daarom kan selfs gedagtes en houdings die liggaam beïnvloed. Byvoorbeeld, positiewe gedagtes lei tot die afskeiding van goed-voel neuro-oordragstowwe, naamliks serotonien en dopamien. Serotonien is nodig om spysverteringsfunksies te reguleer.[2] Dopamien speel weer 'n belangrike rol in die regulering van gemoed, slaap en konsentrasie en help ook met beweging en koördinasie.[3]
Verder ondersoek gesondheidsielkunde hoe biologiese, sielkundige, gedrags- en sosiale faktore gesondheid en siektes kan beïnvloed. Gesondheidsielkundiges gebruik toegepaste navorsing om siektes te help voorkom, algehele gesondheid te bevorder en gesondheidsorgstelels te verbeter. Gesondheidsielkundiges werk dikwels saam met ander gesondheidswerkers om pasiëntsorg te verbeter.