Hubble-ruimteteleskoop

Die Hubble-ruimteteleskoop

Die Hubble-ruimteteleskoop is 'n ruimteteleskoop wat deur die ruimtependeltuig Discovery in April 1990 in 'n wentelbaan om die Aarde geplaas is. Die teleskoop is vernoem na die Amerikaanse sterrekundige Edwin Hubble. Dit is nie die eerste teleskoop wat in die ruimte geplaas is nie, maar wel die grootste en veelsydigste. Hubble is 'n samewerkingsprojek tussen die Amerikaanse NASA en die Europese ESA.

Die idee van 'n ruimteteleskoop is reeds in 1923 geopper, maar fondse vir Hubble het eers in die 1970's begin instroom, met 'n beplande lansering in 1983. Die projek is egter deur tegniese vertragings, finansiële probleme en die Challenger-ramp teëgesit en is uiteindelik eers in 1990 gelanseer. Wetenskaplikes het egter gou gemerk dat die hoofspieël (Hubble het nie lense nie, maar spieëls) in die verkeerde vorm geslyp was. Die probleem kon eers in 1993 tydens 'n onderhoudsbeurt gekorrigeer word, waarna die bedoelde kwaliteit van die teleskoop herstel is. Aangesien Hubble buite die Aarde se atmosfeer wentel, bevat sy foto's byna geen agtergrondlig nie, wat uiters skerp beelde moontlik maak. Hubble se bekende Ultra Deep Field-foto, byvoorbeeld, is die mees gedetailleerde sigbare lig-foto wat ooit van die heelal se verste voorwerpe gemaak is. Baie Hubble-waarnemings het tot deurbrake in astrofisika gelei, soos die akkurate meting van die spoed waarteen die heelal uitsit.

Hubble is die enigste teleskoop wat ontwerp is om in die ruimte deur ruimtereisigers onderhou te word. Tussen 1993 en 2002 is vier onderhoudsbeurte uitgevoer, alhoewel die vyfde op grond van veiligheidsredes gekanselleer is ná die Columbia-ramp in 2003. Uiteindelik is op 'n laaste onderhoudsbeurt besluit wat in 2009 voltooi is en daar word tans verwag dat die teleskoop nog tot 2020 in werking sal bly.[1]

  1. Harwood, William (30 Mei 2013). "Four years after final service call, Hubble Space Telescope going strong". CBS News (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Oktober 2019. Besoek op 3 Junie 2013.

Hubble-ruimteteleskoop

Dodaje.pl - Ogłoszenia lokalne