Die Kerkvaders, vroeë Kerkvaders of Christelike vaders was antieke en invloedryke Christelike teoloë en skrywers wat die intellektuele en doktrinale fondamente van die Christendom gevestig het. Die historiese tyd waarin hulle werksaam was, het as die Patristiese of Kerkvaderlike Tydperk bekend geword en het van omstreeks die laat 1ste eeu tot die middel 8ste eeu geduur. Dit het veral in die 4de en 5de eeu floreer, terwyl die Christelike kerk as die staatskerk van die Romeinse Ryk gevestig is.
In tradisionele dogmatiese teologie word skrywers wat Kerkvaders was as gesaghebbend beskou, en 'n ietwat beperkende definisie word gebruik. Die akademiese veld van die studie van die Kerkvaders het die omvang van die term egter uitgebrei en daar is geen definitiewe lys van Kerkvaders nie.[1][2] Sekere elemente van sommige skrywers wat 'n groot bydrae gelewer het tot die ontwikkeling van die latere Christelike teologie is daarna veroordeel.