’n Kirkwoodgaping is ’n gaping of afname in die verspreiding van die halwe lengteas (of die periodes) van die wentelbane van asteroïdes in die hoofgordel. Dit stem ooreen met die ligging van die wentelresonansies met Jupiter.
Daar is byvoorbeeld baie min asteroïdes met ’n halwe lengteas naby 2,5 AE, of ’n periode van 3,95 jaar, dus in ’n 3:1-resonansie met Jupiter (drie omwentelings vir elke omwenteling van Jupiter). Ander resonansies stem ooreen met ander heelgetalverhoudings tot Jupiter se wentelperiode. Die swakker resonansies lei tot ’n uitputting van asteroïdes, terwyl pieke in die histogram dikwels voorkom vanweë die teenwoordigheid van ’n prominente asteroïdefamilie.