Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Dit is dikwels onmoontlik om die oorsaak van die kramp, 'n meestal skadelose verskynsel, te bepaal. Tetanie (rukkramp) en tetanus (klem-in-die-kaak) gaan gepaard met hewige krampe wat veroorsaak word deur onderskeidelik ʼn gebrekkige kalsuimgehalte in die bloed en besmetting deur 'n bakterie wat 'n gifstof produseer.
'n Kramp is 'n hewige sametrekking van 'n spier of groep spiere en wissel in tydsduur. Anders as 'n normale spiersametrekking, is 'n kramp onwillekeurig. 'n Kramp kan in die dwarsgestreepte (willekeurige) spiere van die geraamte en in die gladde (onwillekeurige) spiere van die inwendige organe voorkom. Krampe van die kuitspiere kan dikwels voorkom, veral net voor slapenstyd. Die oorsaak daarvan is nie duidelik nie - moontlik 'n verminderde bloedtoevoer vanweë ʼn verandering in of beknelling van die liggaamsposisie.
Vermoeienis of die ophoping van afbreekprodukte (metaboliete) speel moontlik ook ʼn rof. Swanger vroue, asook die in hul oorgangsjare, kry gereeld die skadelose kuitkramp. 'n Kramp kan ook ontstaan wanneer 'n persoon in koue water swem en kan verdrinking tot gevolg hê as dit hewig is. In hierdie geval is daar ook geen spesifieke oorsaak nie, maar 'n vermindering in die bloedtoevoer na die spiere is ʼn moontlike faktor; veral in die geval van 'n persoon wat na 'n groot maaltyd gaan swem - die bloed hoop naamlik in die dermvate op.
Die verkeerde gebruik van bepaalde spiere kan ook krampe tot gevolg hê. Mense wat baie skryf of 'n snaarinstrument bespeel, kry byvoorbeeld soms onderskeidelik "skrywerskramp" en "violistekramp". Eersgenoemde het in sommige gevalle 'n sielkundige oorsprong; die skrywers het byvoorbeeld 'n weersin in hut beroep. Die senuweetrekking in veral die gesigspiere is 'n ander vorm van spierkramp wat meestal 'n psigologiese oorsaak het.
Dieselfde geld vir die tipe kramp in die vroulike bekkenspiere waardeur seksuele omgang onmoontlik gemaak word (vaginismus). Bewuste of onbewuste seksuele angsgevoelens speel in die geval ʼn rol. 'n Kramp is selde 'n aanduiding van 'n spier- of senuweesiekte. Slegs epileptiese krampe spruit hoofsaaklik uit die sentrale senuweestelsel (die brein). Omdat die begrip kramp meestal baie vaag gebruik word, is dit nodig om twee ander verskynsels wat soms as krampe beskryf word, te identifiseer.
Gebrekkige bloedtoevoer na die bene kan tydens die loopbeweging die sogenaamde bloedvatvernouingskreupelheid (claudicatio intermittens) veroorsaak. Dit ontstaan weens vaatvernouing deur aarverkalking. ʼn Oorsaak is ook nog nie vir die simptoom genaamd "rustelose bene" bepaal nie. In die geval pyn die bene snags en kan dit nie stilgehou word nie. Hipersensitiwiteit van die senuweestelsel of die spiere word spasmofilie genoem, wat letterlik ʼn neiging tot krampe beteken.
By kinders kom dit voor as koorsstuipe. Krampe van die gladde (onwillekeurige) spiere van die hol, inwendige organe word koliek genoem, byvoorbeeld galblaas-, derm- en nierkoliek. Hierdie uiters pynlike krampe wat met fisieke rusteloosheid gepaard gaan, ontstaan van wee ontsteking, vergiftiging of irritasie wat deur steentjies veroorsaak word. Selfs die oormatige inname van kos en drank kan soveel irritasie veroorsaak dat koliek ontstaan. Daar is verskeie geneesmiddels vir die bestryding van krampe asook kalmeermiddels wat die spiere laat ontspan.