’n Kylix (Grieks: κύλιξ; meervoud: κύλικες, kylikes) was in Antieke Griekeland ’n soort wynkelk. Dit was groot en vlak, met ’n kort steel en twee handvatsels.
Die buitekant van die kelk was dikwels versier, maar die binnekant, of tondo, het die belangrikste versiering bevat. Aangesien dit met wyn bedek was, sou die tonele mettertyd ontbloot word terwyl iemand daaruit drink. Kylikes is dikwels ontwerp met dié feit in gedagte; tonele is so geskep dat die drinker eindelik verras of vermaak sou word wanneer die glas leeg was.
Die woord beteken "kelk" in Grieks en is verwant aan die Latynse woord calix, die aanvanklike bron van die Afrikaanse woord "kelk"[1] – maar nie aan die soortgelyke Griekse woord calyx nie; laasgenoemde beteken "blomkelk".