'n Lawakoepel in vulkanologie is 'n ronde, heuwelvormige uitsteeksel as gevolg van die stadige uitvloeiing van vloeitrae of taai lawa uit 'n vulkaan. Uitbarstings wat koepels vorm, is algemeen, veral aan die grense van konvergente plate.[1]
Sowat 6% van uitbarstings op aarde vorm koepels.[1] Die geochemie van lawakoepels kan wissel van basalt (byvoorbeeld Semeru, 1946) tot rioliet (byvoorbeeld Chaiten, 2010), hoewel die meeste oorgangsamestellings is (byvoorbeeld Santiaguito, dasiet-andesiet, tans)[2] Die kenmerkende koepelvorm word toegeskryf aan taaiheid wat die lawa verhoed om baie ver te vloei. Dié taaiheid kan op twee maniere gevorm word: deur hoë vlakke silika in die magma of deur die ontgassing van vloeibare magma. Aangesien basaltiese en andesitiese koepels gou verweer en maklik opbreek vanweë die verdere invloei van lawa, het die meeste van die koepels wat bewaar gebly het 'n hoë silika-inhoud en bestaan dit uit rioliet of dasiet.
Die bestaan van lawakoepels is al voorgestel as die rede vir sommige koepelvormige strukture op die Maan, Venus en Mars,[1] byvoorbeeld die oppervlak van Mars in die westelike deel van Arcadia Planitia en in Terra Sirenum.[3][4]