Malakologie is die vertakking van ongewerwelde dierkunde wat handel oor die bestudering van weekdiere (molluske), wat naas geleedpotiges die grootste dierefilum uitmaak versover dit beskrewe spesies betref.[1] Molluske sluit slakke, naakslakke, tweekleppiges en koppotiges in, benewens talle ander soorte, waarvan baie oor skulpe beskik. Die term malakologie is uit die Franse malacologie ontleen, 'n kontraksie van malacozoologie; uit Neo-Latyn Malacozoa, 'n soölogiese groep wat weeklywige diere insluit; uit Antieke Grieks μαλακός (malakós) 'sag', en ζῷον (zôion) 'dier'.
Studievelde binne malakologiese navorsing sluit taksonomie, ekologie en evolusie in. Daar is verskeie onderafdelings van malakologie, insluitend konchologie, wat die bestudering van weekdierskulpe behels, en teutologie wat met die bestudering van koppotiges soos seekatte, pylinkvisse en inkvisse begaand is. In toegepasde malakologie word die mediese, veterinêre en landboukundige toepassings bestudeer, soos onder meer ondersoeke na molluske as vektore van skistosomiase en ander siektes.
Dierkundige metodes word gebruik in malakologiese navoring. Malakologiese veld- en laboratorium-metodiek soos versameling, dokumentering en argivering, en molekulêre ontledingstegnieke is in Sturm et al. (2006) opgesom.[2]