Die milt is 'n orgaan wat in feitlik alle gewerwelde diere gevind word. Dit het 'n soortgelyke struktuur as 'n groot limfnode, maar dien hoofsaaklik as 'n bloedfilter. Dit is geleë aan die linkersy langs die maag.
Hoewel dit naby die maag lê, speel dit nie 'n rol in die spysverteringsproses nie. Die milt is deel van die limfstelsel en wel betrokke by die bloedsomloopstelsel. Die milt is die grootste limfoeïdiese orgaan en is spesiaal vir die filtrering van bloed aangepas. Dit is 'n belangrike orgaan vir die produsering en vernietiging van bloedselle en verrig ‘n beskermingsfunksie deurdat dit vreemde stowwe wat in die bloed aanwesig is, vernietig of onskadelik maak.
Die milt is nie 'n lewensnoodsaaklike orgaan nie, maar 'n filterorgaan wat in die bloedbaan ingeskakel is. By die mens het dit 'n massa van ongeveer 160 g. Dit is agter die onderste ribbes en ribkraakbene geleë. Die bovlak van die milt is in aanraking met die onderste gedeelte van die diafragma en die agterste deel van die milt is met die voorste gedeelte van die linkernier in verbinding.
Mediaal is die milt in aanraking met die maag en die voorste deel van die milt is in aanraking met die linkerbuiging van die kolon (flexura coli sinistra). Die peritoneum bedek die milt gedeeltelik. Aan die mediale kant van die milt is die hilus, waar die miltarterie (arteria lienalis) die orgaan binnegaan en die miltvena (vena lienalis) die milt verlaat. Die struktuur en funksie van die milt toon groot ooreenkoms met die limfkliere.
Die milt is omring deur 'n kapsel wat uit digte bindweefsel met gladdespierselle en elastiese vesels bestaan. Die trabekula wat op die kapsel van die milt voorkom, verleen roetes aan die trabekulêre arterieë en venas wat die miltweefsel bereik of verlaat. Die gedeelte tussen die kapsel en trabekula bestaan uit wit pulpa of limfoïede nodules. Hierdie wit pulpa bestaan hoofsaaklik uit ʼn netwerk van limfoïedselle (retikulêre bindweefsel).
Die trabekulêre aterieë vertak in kleiner vate wat die pulpa of pulpa arteriaebinnedring. Hierdie arterieë, ook bekend as follikulêre of sentrale arterieë, word omring deur 'n periarteriële skede. Die wit pulpa kan met die blote oog waargeneem word as klein wit granules (korreltjies) van ongeveer 0,5 mm in deursnee. Die wit kleur is te wyte aan die groot hoeveelheid limfosiete ('n tipe wit bloedsel) wat binne die retikulêre vesels aanwesig is.
Plek-plek verdik die skede knoopvormig om miltfollikels, ook bekend as Malpighi se liggaampies, te vorm. Die oorblywende pulpa staan bekend as rooi pulpa en maak sowat 80 % van die milt se volume uit. Die rooi pulpa bestaan uit 'n netwerk van vertakkende veneuse sinusse. Hierdie veneuse kapillêre is ingebed In rooi pulpa en is groter as die veneuse kapillêre wat andersins in die liggaam aangetref word. Die wande van die venuese kapillêre is onvolledig en sirkulerende bloedselle kan gevolglik maklik van die retikulêre vesels af deur die kapillêre wande deurdring.
Bloed sirkuleer deur die milt via takke van die arteria lienalis (miltarterie). Hierdie takke dring die milt by die hilus binne en bereik die parenchiem van die milt deur die trabekulêre arterieë. In die milt verlaat die arterieë die trabekula en staan dan bekend as die sentrale arteriole. Die sentrale arteriole word omring deur die limfnodules van die wit pulpa. Die sentrale arteriole gee oorsprong aan bale klein vertakkings wat die rooi pulpa binnedring.
Die vertakkings verdeel vervolgens weer in artenële kapillêre. Die kapillêre vate kan volgens twee teorieë een van die volgende roetes volg: Dit kan direk in die rooi pulpa gaan en open die bloed geleidelik. Deur die pulpa filtreer, waarna dit uiteindelik in die veneuse sinusse beland, of dit kan direk in die veneuse sinusse van die rooi pulpa open en gevolglik vinnig na die trabekulêre venas terugsirkuleer.
Die eerste roete kom neer op die sogenaamde oop of stadige roete terwyl die tweede roete ooreenstem net die sogenaamde toe of vinnige sirkulasie. Uit die milt dreineer die bloed via die trabekulêre venas terug na die vena lienalis. Hierdie sirkulasie stel die milt in staat om doeltreffend as filter van bloed te funksioneer. Afgesien van die reeds genoemde arterieë en venas kan die senuwees en limfvate die milt ook by die hilus binnegaan.