Mosfilm

Мосфильм
Mosfilm
Tipe Korporasie
Gestig 30 Januarie 1924
Hoofkantoor MoskouRussiese Federasie Mosfilmofskaja ul. 1, Metro Kiëfskaja, Moskou 119285
SleutelpersoneKaren Sjachnazarof (voorsitter)
IndustrieRolprentbedryf
ProdukteRolprente, televisieprogramme, videosnitte
Werknemers1 500
WebwerfMosfilm
Die Russiese president Wladimir Poetin (links) wens die regisseur en rolprentvervaardiger Karen Sjachnazarof, Mosfilm se direkteur-generaal, in 2018 geluk toe tydens 'n prystoekenning
Rolprentstelle met historiese Moskouse boukuns in een van die Mosfilm-ateljees

Mosfilm (Russies: Мосфильм, [məsˈfʲɨlʲm]) is die oudste en grootste rolprentmaatskappy in die Russiese Federasie en word ook as die grootste rolspeler in die Europese rolprentbedryf beskou. Sy hoofkwartier in Ramenki in die Westelike Administratiewe Distrik van Moskou, vlakby die Mossiesheuwels, met 'n totale oppervlakte van 14 000 m² huisves dertien rolprentateljees wat onder die modernstes in Europa gereken word.[1] Hier word steeds sowat tagtig persent van alle Russiese rolprente vir die silwerdoek en televisiekanale asook televisie-advertensies en videosnitte van Russiese popsterre vervaardig.[2] Vir belangstellende besoekers word besigtigingstoere aangebied. 'n Klein hotel, die Mosfilm Hotel, is op die ateljeeterrein geleë en staan eweneens oop vir die publiek.

In die vroeë 21ste eeu het Mosfilm grootskaals belê in die modernisering van sy vervaardigings- en tegniese geriewe. So is ateljees van moderne gesofistikeerde kamera- en ander tegnologieë voorsien. Die mees gevorderde digitale toerusting is in Mosfilm se klankateljee geïnstalleer. Twee van sy heropname-ateljees was die eerstes ter wêreld waaraan die Kaliforniese klankonderneming Dolby Laboratories in 2006 die sertfikaat van Dolby Premier Studio-gehalte toegeken het.[3][4]

In 2017 is die Dolby Premier-ateljees afgebreek om plek te maak vir die nuutste digitale omringklanktegnologie - Dolby Atmos. Die projek is deur die Britse klankkonsultansie White Mark bestuur.[5]

Mosfilm se lang lys van produksies sluit - naas onvermydelike propaganda - sowel befaamde rolprente uit die Sowjet-tydperk in, waaronder die werke van bekende regisseurs soos Andrei Tarkofski en Sergei Eisenstein, asook "Rooi Wilde Weste"-rolprente, Akiro Koerosawa se koproduksie Дерсу Узала (Dersoe Oezala) uit 1975 en die epiese werk Война и Мир ("Oorlog en vrede", 1968, 'n 70 mm-kleurfilm in drie dele[6]). In 2011 het Mosfilm begin om klassieke werke uit sy filmargiewe via 'n eie YouTube-kanaal vir die algemene publiek beskikbaar te stel (in Russies met Engelse onderskrifte), insluitende Andrei Tarkofski se wetenskapsfiksie-meesterwerk Solaris.[7]

  1. Programm.ARD.de: Mosfilm - Russlands legendäre Traumfabrik. Besoek op 13 Junie 2018
  2. www.orf.at, 6 Mei 2011: „Du mutiger Kosake!“ Besoek op 13 Junie 2018
  3. "en.mosfilm.ru: About. Besoek op 30 Januarie 2020". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Desember 2019. Besoek op 30 Januarie 2020.
  4. Sputnik News Deutschland - Kultur, 11 Julie 2006: Mosfilm - das erste Filmstudio der Welt mit Dolby-Premier-Lizenz. Besoek op 30 Januarie 2020
  5. PSN Europe, 12 April 2017: White Mark designs Mosfilm’s first Dolby Atmos dubbing theatre. Besoek op 30 Januarie 2020
  6. Gennadi Rosenthal: Camera! on the Mosfilm lot. In: USSR - Soviet life today, Maart 1964, bl. 41
  7. The Moscow Times, 3 Mei 2011: Mosfilm Uploads Classics to YouTube. Besoek op 13 Junie 2018

Mosfilm

Dodaje.pl - Ogłoszenia lokalne