Noe of Noen ("bodemlose poel") is in die Egiptiese mitologie die vergoddeliking van die oerwaters waaruit die wêreld ontstaan het.
Die Antieke Egiptenare het die bodemlose poel van Noe beskou as ’n sfeer waarin die essensie van die lewe vasgevang was. Die wêreld is geskep deurdat ’n heuwel uit dié oerwaters ontstaan het.[1] Noe is die bron van alles wat op aarde bestaan, die goddelike en die aardse. Die eerste god wat ontstaan het, Atoem, het homself geskep en uit hom het alle ander gode en die mense ontstaan.
Noe is gewoonlik as manlik uitgebeeld, maar het ook aspekte gehad wat as manlik óf vroulik beskou kon word. Noenet (ook Naoenet gespel) is die vroulike aspek (dit is die naam Noe met ’n vroulike uitgang) en Noen is die manlike aspek (met ’n manlike uitgang). Noe se manlike aspek is dikwels uitgebeeld as ’n padda of ’n man met die kop van ’n padda. Noenet is uitgebeeld as ’n slang of ’n vrou met die kop van ’n slang.
Van die Middelryk af is Noen beskryf as die "vader van die gode", en hy is vir die res van Antieke Egipte se bestaan op tempelmure uitgebeeld.[2]
In die "12de Uur" van die Boek van Poorte word Noe uitgebeeld met sy arms omhoog terwyl hy ’n boot ophou. In die boot is agt gode, bekend as die ogdoad (agt gode) – in die middel staan die kewergod Chepri, en hy word omring deur die ander sewe gode.