Novalis | |
---|---|
Gebore | Georg Philipp Friedrich Freiherr von Hardenberg 2 Mei 1772 |
Sterf | 25 Maart 1801 (op 28) Weißenfels, Keurvorstedom Sakse |
Nasionaliteit | Heilige Romeinse Ryk |
Beroep | Prosaskrywer, digter, mistikus, filosoof, siviele ingenieur |
Ouer(s) | Heinrich Ulrich Erasmus von Hardenberg Auguste Bernhardine von Hardenberg |
Handtekening | |
Novalis was die pennaam van Georg Philipp Friedrich Freiherr von Hardenberg (* 2 Mei 1772 in die kasteel Oberwiederstedt, destyds Keurvorstedom Sakse, tans in die deelstaat Sakse-Anhalt; † 25 Maart 1801 in Weißenfels), een van die beduidendste skrywers van die vroeë Duitse Romantiek wat hom naas sy literêre loopbaan ook as filosoof, juris en mynbou-ingenieur bekwaam het.
Een motief uit sy romanfragment Heinrich von Ofterdingen, die Blou Blom as versinnebeelding van romantiese verlange, het later die sentrale simbool van die Romantiek geword.[1] Vir baie is Novalis die ideaal van 'n hartstogtelike jong digter, maar biografieë soos dié van Gerhard Schulz[2] wys daarop dat Novalis 'n veelsydige persoonlikheid was, diep gewortel in die leefwêreld en oortuigings van sy tyd. Natuurwetenskap en digkuns was in die laat 18de en vroeë 19de eeu nog nie streng van mekaar geskei nie, en die soektog na 'n verbinding tussen dié twee dissiplines het sentraal gestaan in sy werk. Met Novalis se ontydige dood in 1801 het dié soektog skielik tot 'n einde gekom.