Die term outo-etnografie bestaan uit drie woorddele: outo (self), etno (kultuur) en grafie (proses) wat die tekstuele voorstelling van 'n individu se persoonlike ervaringe in sy/haar sosiale, politieke, ekonomiese en kulturele konteks verduidelik.[1] Outo-etnografie is eenders en terselfdertyd anders as etnografie, gebaseer op die proses, die kultuur en die self. Dit is navorsing weens die verhalende en verduidelikende aspekte, wat die konneksie tussen die persoonlike en die kulturele bied en blote selfnarratief oortref weens die analitiese en interpretatiewe aard daarvan.[2]
'n Onderliggende bekommernis van navorsers in 'n opvoedkundige konteks is die vraag vir wie hierdie tesis waarde sou hê? Wie sou dit lees as die oorgrote meerderheid van sy lesers nie die woorde of konsepte verstaan nie, as gevolg van die trant waarin dit geskryf is? Elke ervaring bied die geleentheid vir die navorser om die navorsingsverhaal te vertel op so 'n wyse dat ander dit sal kan verstaan en gebruik. Elke leser lei die betekenis van hierdie tesis as teks af vanuit die verwysingsraamwerk, diskoersgemeenskap en kultuur, waaraan hy/sy behoort.
Hierdie artikel bespreek die gebruik van outo-etnografie as navorsing en verslag in opvoedkundige konteks. Dit bespreek tersaaklike terminologie, naamlik etnografie en outo-etnografie. Verder voer dit argumente aan hoekom outo-etnografie gebruik sou kon word, wat die kritiek teen hierdie wyse van navorsingsverslag is, wat die slaggate in so 'n soort navorsing is, en wat die voordele van outo-etnografie is. Uiteindelik bespreek dit ook die narratiewe benadering wat ten grondslag van hierdie vorm van navorsing lê.