Shaktisme of Sjaktisme (Sanskrit: शाक्तं Śāktaṃ; letterlik "die leerstelling van energie, krag, die Godin") is een van die vier groot tradisies in Hindoeïsme; daar word geglo die metafisiese werklikheid is vroulik en die Devi (Godin) is die hoogste wese.[1][2][3] ’n Verskeidenheid godinne word aanbid, maar almal word beskou as aspekte van dieselfde oppergodin, Adi Parashakti.[1][4] Shaktisme het verskillende subtradisies, wat wissel van dié wat gefokus is op die grasieuse Lakshmi tot dié wat Kali aanbid, en sommige Shakti-subtradisies verbind hul godin met Shiva of Vishnu.[5][6]
Die Sruti- en Smriti-geskrifte van Hindoeïsme is ’n belangrike historiese raamwerk van Shaktisme. Ook belangrik is die geskrifte Devi Mahatmya en Devi-Bhagavata Purana, en Shakta Upanishads soos die Devi Upanishad.[7] Veral die Devi Mahatmya word in Shaktism net so belangrik beskou as die Bhagavad Gita.[8]
Die panteon van godinne in Shaktisme het gegroei ná die agteruitgang van Boeddhisme in Indië; Hindoe- en Boeddhistegodinne is saamgevoeg om die Mahavidya, ’n lys van 10 godinne, te vorm.[9] Die mees algemene aspekte van Devi in Shaktisme sluit in Durga, Kali, Amba, Lakshmi, Parvati en Tripurasundari.[4] Die godin-gebaseerde tradisie is veral gewild in Wes-Bengale, Assam, Tripura, Nepal en die buurstreke, waar feeste soos die Durga puja plaasvind.[5]
Shaktistiese idees het Vaishnavisme en Shaivisme beïnvloed, waarin die godinne beskou word as shakti van onderskeidelik Vishnu en Shiva.[2]