Our website is made possible by displaying online advertisements to our visitors.
Please consider supporting us by disabling your ad blocker.
Sjia
Sjia (Arabies: شيعة Shīʿah, van Shīʿatu ʿAlī, "aanhanger van Ali") is ’n tak van Islam wat glo die profeet Mohammed het Ali ibn Abi Talib aangewys as sy opvolger en die imam (leier) ná hom,[2] maar dat hy die reg om kalief te wees ontsê is omdat sommige van Mohammed se volgelinge ná die profeet se dood bymekaargekom en trou aan Aboe Bakr gesweer het. Hierdie siening bots met dié van die Soenni, wie se volgelinge glo Mohammed het nie ’n opvolger aangewys nie; hulle beskou Aboe Bakr as die eerste regmatige kalief ná die profeet.[3]
Anders as die eerste drie Rasjidoen-kaliefs, was Ali van dieselfde stam as Mohammed, Banu Hashim.[4]
Aanhangers van Sjia is bekend as Sjias of Sjiiete[5] (voorheen Sjiïete). Sjia is die tweede grootste tak van Islam: In 2009 het Sjiiete 10-20%[6] van die wêreld se Moslembevolking uitgemaak.[7] Die Twaalfers (Ithnā'ashariyyah) is die grootste tak van Sjia,[8] met ramings in 2012 wat aandui 85% van Sjiiete is Twaalfers.[9]
Sjia is gebaseer op die Koran, die boodskap van Mohammed soos saamgevat in die hadit en op hadit wat deur hul imams onderrig word.[10][11] Sjia glo Ali is Mohammed se goddelik-aangewese opvolger en die eerste imam. Hulle brei ook hierdie imamleerstelling uit na Mohammed se familie, die Ahl al-Bayt ("familie van die huis"),[12] en sommige individue onder sy afstammelinge bekend as die "imams", wat volgens hulle spesiale sprituele en politieke gesag oor die gemeenskap het, asook onfeilbaarheid en ander goddelik-bepaalde eienskappe.[13]
Hoewel daar baie subgroepe is, word moderne Sjia in drie hoofgroepe verdeel: die Twaalfers, Ismaili's en Zaidi's; die Twaalfers is die grootste en invloedrykste groep.[14][15][16]
↑Die bron vir verspreiding is die CIA World Factbook. Sjiitiese/Soennitiese verspreding kom uit ander bronne. Sjiiete kan onderverteenwoordig wees in sommige lande waar hulle nie in die amptelike statistieke verskyn nie.