’n Skutblaar is in plantkunde ’n aangepaste of gespesialiseerde blaar wat veral verbind word met die voortplantingstelsel soos ’n blom, groeias of teëlskub. Skutblare verskil dikwels, maar nie altyd nie, van die gewone blare. Hulle kan kleiner of groter wees of ’n ander kleur, vorm of tekstuur hê. Hulle lyk gewoonlik ook anders as die res van die blom, soos die kroon- en kelkblare. ’n Plant met skutblare word skutblaardraend genoem.