Stekelbaars | |
---|---|
Vier spesies stekelbaars vanuit die Atlantiese Oseaan se kus van Noord-Amerika. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Subklas: | |
Infraklas: | |
Orde: | |
Familie: | Gasterosteidae
|
Genera | |
Stekelbaars (familie Gasterosteidae) is klein vissies wat slegs in die Noordelike Halfrond in varswater en in die see voorkom. Hul naam is afgelei van die beweeglike stekels wat voor die rugvinne voorkom. Stekelbaars is nie aan die baars verwant nie, maar behoort saam met die seeperd tot dieselfde orde.
Die visse word maklik geteel en hulle loon 'n ingewikkelde paringsgedrag. Gevolglik is hulle gewilde proefdiere in laboratoria, waar hulle aangewend word om dierlike gedrag te bestudeer. Die stekelbaars (familie Gasterosteidae) behoort saam met die trompetvisse, seenaalde en die seeperde tot die orde Gasterosteiformes. Hulle is klein vissies (meeste kleiner as 10 cm) en kom in die koue en gematigde dele van die Noordelike Halfrond voor.
Hul liggame het geen skubbe nie, maar word meestal deur beenplaatjies beskerm. Die hoeveelheid daarvan hang nie net af van die spesie nie, maar ook van die watertemperatuur en die soutgehalte. 'n Wisselende aantal beweeglike stekels word voor die rugvin aangetref en hulle kan, soos die buikstekel, ook platgevou word. Die stekels verskaf beskerming teen roofvisse en voëls, wat nietemin groot getalle stekelbaars vang.
Die visse is ekonomies nie baie belangrik nie, hoewel groot skole vis gevang word en tot traanolie, vismeel, kunsmis of hoendervoer verwerk word. Die visse se gedrag is intensief in laboratoria bestudeer en het baie tot die huidige kennis van dieregedrag bygedra. Veral die driedoringstekelbaar (Gasterosteus aculeatus) se paringsgedrag is baie intensief bestudeer.