'n Submasjiengeweer (SMG) is 'n magasyngevoerde, outomatiese karabyn wat ontwerp is om handwapenammunisie af te vuur. Die term "submasjiengeweer" is geskep deur John T. Thompson, die uitvinder van die Thompson-submasjiengeweer,[1] om die ontwerpkonsep daarvan te beskryf as 'n outomatiese vuurwapen met aansienlik minder vuurkrag as 'n masjiengeweer (vandaar die voorvoegsel "sub-" ). Aangesien 'n masjiengeweer geweerpatrone moet afvuur om as sodanig geklassifiseer te word, word submasjiengewere nie as masjiengewere beskou nie.
Die submasjiengeweer is tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) ontwikkel as 'n aanvalswapen, hoofsaaklik vir loopgrawe. Op sy hoogtepunt tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) is miljoene SMG's gemaak vir gebruik deur gewone troepe, klandestiene kommando's en partisane. Na die oorlog het nuwe SMG-ontwerpe gereeld verskyn.[2] Teen die 1980's het SMG-gebruik egter afgeneem.[2] Vandag is masjiengewere grootliks vervang deur aanvalsgewere, [2] wat 'n langer doeltreffende reikafstand het en in staat is om die helms en lyfpanser wat deur moderne infanterie gebruik word te penetreer.[3] Submasjiengewere word egter steeds deur militêre spesiale magte en polisie-SWAT-spanne vir nabygevegte gebruik omdat dit "'n pistoolkaliber wapen is wat maklik is om te beheer, en minder geneig is om die teiken te oorpenetreer".[3]