Transendentalisme is 'n filosofiese beweging wat in die laat 1820's en 1830's ontstaan en ontwikkel het in die ooste van die Verenigde State van Amerika.[1][2][3] Dit het herrys as 'n reaksie ten einde te protesteer teen die algemene toestand van intellektualisme en spiritualiteit van die tyd.[4] Die doktrine van die Unitariese kerk soos wat dit gedoseer is by die Harvard Godsdiensskool was ook van besondere belang.
Transendentalisme het voortgekom uit die "Engelse en Duitse Romantiek, die Bybelse kritiek van Johann Gottfried von Herder en Friedrich Schleiermacher, die skeptisisme van David Hume",[1] en die transendentale filosofie van Immanuel Kant en die Duitse idealisme. Miller en Versluis beskou Emanuel Swedenborg as 'n deurtastende invloed op transendentalisme.[5][6] Dit is ook sterk beïnvloed deur Hindoe-tekste op die filosofie van die gedagtes en spiritualiteit, en veral die Upanishads.
'n Kernbeginsel van transendentalisme is die oortuiging dat die mens en natuur inherent goed is.[1] Aanhangers glo dat die beskawing en sy instellings die suiwerheid van die indiwidu vertroebel het, en hulle glo ook dat mense op hul beste is wanneer hulle werklik selfonderhoudend en onafhanklik is.
Transendentalisme plaas die klem op subjektiewe intuïsie, oor die objektiewe empirisme. Aanhangers daarvan is verder van mening dat die indiwidu in staat is om heeltemal oorspronklike insigte op te diep, met min aandag en onderdanigheid aan vorige leermeesters en doktrines.