Varing

Varing (Pteridopsida)
Tydperk: 390–0 m. jaar gelede
Asplenium
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Divisie:
Klas:
Orde:
verskeie – sien teks

Die varingagtiges (vroeër afdeling Pteridophyta) is vandag 'n versamelnaam vir 4 afdelings van die planteryk, naamlik die primitiewe varings (afdeling Psilophyta), die wolfskloue (afdeling Lycopodophyta), die perdesterte (afdeling Sphenophyta) en die egte varings (afdeling Pterophyta).

Al hierdie plante deel die kenmerk dat hulle vaatbundels het en dat hulle deur middel van spore voortplant. Soos die mosse(afdeling Bryophyta) ondergaan varings ook 'n generasiewisseling, maar die sporofietgenerasie oorheers en die gametofietgenerasie is baie gereduseer. Die meeste varings word in die tropiese en subtropiese wêrelddele in vogtige, skaduryke toestande op die grond aangetref.

Veral in die trope word ook heelwat epifiete aangetref, terwyl 'n groep egte varings waterlewend is. Die meeste varingagtiges is laaggroeiende kruide, maar 'n paar boomvormige spesies word ook aangetref. Die 4 afdelings van die planteryk wat saam as die varingagtiges beskou word, het die gemeenskaplike kenmerke dat hulle vaatplante is, met ander woorde vaatbundels besit, en dat hulle deur middel van spore voortplant.

Eersgenoemde eienskap deel hulle met die saadplante en laasgenoemde eienskap met die mosse. Die vaatbundels van varingagtiges is meestal konsentries (met die xileem binne die floëem) en geslote, met ander woorde daar is geen kambium tussen die xileem en die floëem nie en sekondêre diktegroei kan dus nie plaasvind nie. By sommige van die uitgestorwe varings kon sekondêre diktegroei egter wel plaasvind, en dit vind ook by een van die hedendaagse groepe plaas.

Die vaatweefsels van varings maak die vervoer van vloeistowwe heelwat doeltreffender, gevolglik is hulle oor die algemeen ook heelwat groter as die mosse. Die blare van die wolfskloue (afdeling Lycopodophyta) en die perdestertagtiges (afdeling Sphenophyta) is baie klein en staan as mikrofille bekend. Die van die egte varings is heelwat groter en staan gevolglik as megafille bekend.

Baie varingagtiges het 'n kruipende stingel, wat bogronds of ondergronds kan wees. Generasiewisseling is, soos by die mosse, duidelik by die varingagtiges waarneembaar. In teenstelling met die mosse is die sporofietgenerasie van die varingagtiges egter die dominante generasie en is die gametofietgenerasie gereduseer. Die alombekende varingplante is die sporofietgenerasies en by rypheid vorm hulle spore in spesiale sporangia.

Die spore word deur reduksiedeling of meiose gevorm en lei dus die haploïede gametofietgenerasie in. By die sogenaamde isosporiese varings is al die spore wat geproduseer word, identies en gee die ontkiemende spore oorsprong aan klein protalliums of gametofiete. By die heterosporiese varings word 2 verskillende tipes spore, naamlik mikro- en makrospore, in mikro- en makrosporangia geproduseer.

Die mikrospore gee oorsprong aan manlike (mikro-) gametofiete en die makrospore aan vroulike (makro-) gametofiete en die gametofiete ontwikkel binne-in die spore. Die protallium van 'n isosporiese varing dra sowel manlike as vroulike geslagsorgane (onderskeidelik anteridia en argegonia).

Elke argegonium produseer een eiersel, terwyl die anteridia 'n groot aantal spermatosoïede produseer. Hierdie spermatosoïede word deur appelsuur, sitroensuur of soortgelyke stowwe wat deur die argegonia afgeskei word, na die argegonia aangetrek. In 'n argegonium versmelt 1 spermatosoïed met die eiersel om 'n dipIoïede sigoot te vorm en dus die begin van die sporofietgenerasie in te lui. Die jong sporofiet is oorspronklik van die gametofiet vir voedingstowwe afhanklik, maar ontwikkel vinnig wortels, stingels en blare om 'n selfstandige varingplant te vorm.


Varing

Dodaje.pl - Ogłoszenia lokalne