Vlas | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Plantae |
Klade: | Tracheofiete |
Klade: | Angiospermae |
Klade: | Eudicots |
Klade: | Rosids |
Orde: | Malpighiales |
Familie: | Linaceae |
Genus: | Linum |
Spesie: | L. usitatissimum
|
Binomiale naam | |
Linum usitatissimum L., (1753)
| |
Sinonieme | |
Vlas (Linum usitatissimum) is 'n veselgewas wat sedert die vroegste eeue verbou word. Die vesel word verwerk tot linne wat in tekstiel gebruik word. Die saadbolletjies word vir die vervaardiging van lynolie [1] gebruik.[2]
Vlas is 'n slanke, regop kruidplant wat glansend grysgroen van kleur is en 75 – 120 cm hoog word. Dit kry wit of blou blommetjies bo-op die stingel. Dit kom dalk oorspronklik uit Asië, maar dit word reeds vir eeue gekultiveer.[3] In die Ou Egipte is dit reeds in die vyfde millennium v.C. bekend. Dit was daar die belangrikste bron van tekstiel.[4] Proefnemings in 2005 om dit ook in Suid-Afrika naby Tarkastad, Hofmeyr, Tyhefu en Venterstad te verbou was baie suksesvol.[5] Die vesels van die vlasstingel bestaan 78% uit sellulose. Daarnaas bevat dit 4,7% hemisellulose, 0,4% lignien, die res is klein molekule soos lipiede of anorganiese stowwe.[6] Dit groei sonder noemenswaardige probleme op suur tot neutrale grond in koel en klammerige klimaatstoestande.
Wanneer dit ryp word verkleur die plant geel en kan dit geoes word. Die saad word verwyder. Om die vesel uit die stingel te verkry moet dit 'n proses ondergaan wat weking heet. Nadat dit plaasgevind het, word die stingels deur hekels getrek om die strooi van die vesels af te skraap. Uitkamming verwyder uiteindelik die stukkies strooi wat nog aan die vesels geheg is.[2]
Die olie kan in die kombuis gebruik word, maar dit het effense lakserende eienskappe. Dit is 'n goeie bron van onversadigde vetsure en word ook in verf, vernis, seep en ink aangewend. Die lynsaad se reste nadat die olie gepers is, word as veevoer gebruik.[3]
Daar is een subspesie: Linum usitatissimum var. stenophyllum (Boiss.) Rech.f.[7]