’n Weesplaneet (ook genoem ’n interstellêre, sonlose of dwaalplaneet) is ’n voorwerp met die massa van ’n planeet wat direk om die middel van ’n sterrestelsel wentel. Sulke voorwerpe is uit hul planeetstelsels gewerp, of was nooit gravitasioneel aan enige ster of bruindwerg gebonde nie.[1][2] Die Melkweg alleen kan miljarde weesplanete hê.[3]
Sommige voowerpe met die massa van ’n planeet kon op dieselfde manier as sterre gevorm het en die Internasionale Astronomiese Unie het voorgestel hulle word subbruindwerge genoem.[4] ’n Moontlike voorbeeld is Cha 110913-773444, wat uit ’n planeetstelsel gewerp kon gewees het of op sy eie gevorm het om ’n subbruindwerg te word.[5]
Sterrekundiges het die Herschel-ruimtesterrewag en die Baie Groot Teleskoop gebruik om ’n baie jong vrybewegende voorwerp met die massa van ’n planeet (OTS 44) waar te neem en te demonstreer dat sulke voorwerpe die massa van ’n paar Jupiters het. Herschel-infrarooiwaarnemings het gewys OTS 44 word omring deur ’n skyf van minstens 10 aardmassas en kan moontlik eindelik ’n klein planetêre stelsel vorm.[6]
Spektroskopiese waarnemings van OTS 44 met die SINFONI-spektograaf by die Baie Groot Teleskoop het onthul die skyf versamel aktief materie, net soos ’n jong ster.[6] In Desember 2013 is die bestaan van die moontlike eksomaan van ’n weesplaneet, MOA-2011-BLG-262, bekend gemaak.[7]