'n Sekstant is 'n meetinstrument wat gebruik word om die hoek of hoogte van 'n hemelliggaam bo die horison te meet. Die hoek en tyd waarop die meting gemaak word kan gebruik word op 'n posisielyn op 'n kaart vas te stel. Die sekstant kan gebruik word om die son op sy hoogste punt van die dag waar te neem en dan die meting gebruik om jou breedtegraad vas te stel. As die sekstant horisontaal gehou word kan dit ook gebruik word om die hoek tussen enige twee voorwerpe te meet, soos byvoorbeeld tussen twee vuurtorings wat 'n mens dan op soortgelyke wyse in staat sal stel om 'n posisielyn op 'n kaart te bereken.
Die skaal van 'n sekstant het 'n lengte van 1/6 van 'n volle sirkel; 60°, daarvandaan die sekstant se naam. 'n Oktant is 'n soortgelyke instrument met 'n korter skaal (1/8 van 'n sirkel, of 45°).
Sir Isaac Newton het die beginsel van die dubbele reflekterende navigasie-instrument uitgevind, maar dit nooit gepubliseer nie. Die sekstant is onafhanklik rondom 1730 ontwikkel deur John Hadley (1682–1744), 'n Engelse wiskundige en Thomas Godfrey (1704–1749), 'n Amerikaanse uitvinder. Die sekstant, saam met die oktant het die astrolabium as die belangrikste instrument vir navigasie vervang.