2011 Superrugby | |
Amptelike logo
| |
Deelnemende lande | Australië Suid-Afrika Nieu-Seeland |
---|---|
Kampioen | Reds (1ste titel) |
Wedstryde gespeel | 125 |
Drieë gedruk | 579 (gem. 4.632 per wedstryd) |
Meeste punte aangeteken | 228 Quade Cooper (Reds) |
Meeste drieë gedruk | 9 Sarel Pretorius (Cheetahs) 9 Bjorn Basson (Bulls) 9 Sean Maitland (Cruaders) |
Die 2011 Superrugbyseisoen het in Februarie 2011 afgeskop met voorseisoenwedstryde wat van middel Januarie gespeel is. Dit het vroeg in Julie ten einde geloop om aan spelers die geleentheid te gun om te herstel voor die Rugbywêreldbeker 2011 wat in September en Oktober afgespeel het. In toekomstige nie-wêreldbekerjare sal die kompetisie tot Augustus strek. Die 2011-seisoen was die eerste van die uitgebreide Superrugbykompetisie met die toetrede van die Melbourne Rebels nadat ’n bod van die Southern Kings van die hand gewys is.
Die kompetisie is oor 21 weke beslis met ’n totaal van 125 wedstryde wat gespeel is. Dit begin met drie groepe van vyf spanne wat volgens lande ingedeel is (daar was dus ’n Australiese, Nieu-Seelandse en Suid-Afrikaanse groep). Met die nuwe formaat het die seisoenwedstryde uit twee tipes wedstryde bestaan, nl.:
Die boonste span in elke groep, asook die volgende drie spanne op die algehele punteleër, ongeag hul plek in die groep, het in die uitspeelwedstryde gespeel.[1] Die boonste twee groepwenners (op die basis van die algehele punteleër) het die eerste ronde van die uitspeelwedstryde ’n loslootjie gekry. In die eerste ronde van die uitspeelwedstryde was die derde groepwenner nommer drie met ’n tuiswedstryd teen die span wat sesde op die algehele punteleër geëindig het. Die span wat vierde was op die algehele punteleër het dan in ’n tuiswedstryd uitgespeel teen die span wat vyfde was. In die halfeindrondes het die tweede groepwenner uitgespeel teen die span wat in die eerste uitspeelronde gewen het en die hoogste op die punteleër was. Die eerste groepwenner het dan teen die ander uitspeelrondewenner gespeel. Die eindronde was tuiswedstryd vir die span wat die hoogste op die algehele punteleër geëindig het.[2]