Kenteken van die Rugbykampioenskap | |
Datums | 10 Augustus - 28 September |
---|---|
Kampioen | Suid-Afrika (5 titels) |
Wedstryde gespeel | 12 |
Drieë gedruk | 77 (6.42 per wedstryd) |
Bywoning | 531 010 (44 251 per wedstryd) |
Meeste punte | Damian McKenzie (62) |
Meeste drieë | Caleb Clarke (6) |
← 2023 2025 → | |
Die 2024-Rugbykampioenskapsreeks was die twaalfde jaarlikse rugbytoernooi tussen die nasionale spanne van Argentinië, Australië, Suid-Afrika en Nieu-Seeland. Die kompetisie word bedryf deur SANZAAR, ’n gesamentlike onderneming van die vier lande se nasionale rugbyunies. Die spanne is onderskeidelik die Pumas, Springbokke, Wallabies en die All Blacks.
Tydens die toernooi het elke span hul wedstryde tuis en weg gespeel. Elke land het drie wedstryde aangebied, maar nie eweredig oor hul mededingende nasies nie. Argentinië was twee keer gasheer vir Australië en Suid-Afrika een keer; Australië het Suid-Afrika twee keer gehuisves en Nieu-Seeland een keer; Nieu-Seeland was twee keer gasheer vir Argentinië en Australië een keer; en Suid-Afrika was twee keer gasheer vir Nieu-Seeland en Argentinië een keer.
Die toernooi het op 10 Augustus afgeskop met Australië teen Suid-Afrika en Nieu-Seeland as gasheer vir Argentinië, en sewe weke later afgesluit (ses rondes en twee loslootjies) op 28 September toe Australië Nieu-Seeland besoek het en Argentinië in Suid-Afrika gespeel het. Suid-Afrika het die toernooi vir die vyfde keer gewen. Buitendien het hulle die Mandela Uitdaagplaat en die Vryheidsbeker ingepalm, terwyl Nieu-Seeland die Bledisloebeker gewen en Argentinië met die Poematrofee weggestap het.