Met die term aartsvaders word bedoel die drie voorvaders van die Israelitiese volk: Abraham, sy seun Isak, en Isak se seun, Jakob. Volgens Bybelse oorlewering het hulle van 2040 tot 1733 v.C. (1948 tot 2225 in die jaartelling van die Ou Testament) in die suide van die land Kanaän gewoon. Hulle was leiers van klein nomadiese stamme wat voortdurend agter beter weivelde rondgetrek het, veral in die omstreke van Hebron en Berseba. Hulle was nie net die voorvaders van die Israelitiese volk nie, maar ook van die Ismaeliete en die Edomiete. Die aartsvaders word beskou as bewaarders van God se oer-openbaring, waaraan Adam reeds deel gehad het en wat deur elke vader aan die oudste seun oorgedra is. God het deur middel van drome, gesigte en engele met hulle gepraat en hulle belowe dat hul nageslag die land Kanaän in besit sou neem. Hulle was in alle opsigte voorbeelde van godsdienstigheid en naasteliefde.