Ds. Abraham Aucamp | |
Ds. Abraham Liebrecht Aucamp
| |
Naam | Abraham Liebrecht Aucamp |
---|---|
Geboorte | 21 September 1905 Bethulie, Oranje-Vrystaat |
Sterfte | 6 Junie 1961 (op 55) Burgersdorp, Kaapland |
Kerkverband | Gereformeerd |
Gemeente(s) | Eldoret 1933–1937 Bethlehem 1937–1942 Ficksburg-kombinasie 1942–1948 Burgersdorp 1948–1961 |
Jare aktief | 1933–1961 |
Kweekskool | Teologiese Skool Potchefstroom |
Ds. Abraham Liebrecht Aucamp (distrik Bethulie, 21 September 1905 – 6 Junie 1961) was tussen 1933 en 1961 predikant in vier gemeentes van die Gereformeerde Kerk, onder andere die eerste predikant van die Gereformeerde kerk Eldoret in Kenia, ook sy eerste standplaas. Hy is oorlede in die jaar waarin hy sy emeritaat aanvaar het, waarskynlik weens swak gesondheid aangesien hy indertyd net 55 jaar oud was. Sy gemeentes was agtereenvolgens Eldoret (1933–1937), Bethlehem (1937–1942), Ficksburg-kombinasie (1942–1948) en eindelik Burgersdorp (1948–1961).
Nie lank ná sy aankoms in Eldoret nie het ds. M.P. Loubser, wat jare lank predikant van die NG Kerk in Kenia was, weens swak gesondheid en hoë ouderdom na die Unie terug vertrek. Langer as ’n jaar was ds. Aucamp die enigste Afrikaanse predikant in Kenia en in die tyd het hy soveel moontlik alle Afrikanergesinne en siekes besoek en begrafnisse gehou. Ook het hy hom beywer in belang van kulturele aangeleenthede, die viering van die Afrikanerfeesdae en die behartiging van die skoolbelange van die jeug. Later het daar ook broeders-predikante van die ander Afrikaanse kerke gekom — ds. A. Brand vir die Hervormde Kerk en di. J.W. Dednam en Brits vir die NG Kerk. Die samewerking met dié broeders was hartlik.