Adrastea, tussen November 1996 en Junie 1997 afgeneem deur die Galileo-ruimtetuig. | |
Ontdekking | |
---|---|
Ontdek deur | David C. Jewitt G. Edward Danielson |
Datum | 8 Julie 1979 |
Alternatiewe name | Jupiter XV |
Wentelbaaneienskappe | |
Wentelbaanradius | 129 000 km |
Eksentrisiteit | 0,0015 |
Wentelperiode | 0,29826 dae |
Gem. omwentelingspoed | 31,378 km/s |
Inklinasie | 0,03° (tot Jupiter se ewenaar) |
Satelliet van | Jupiter |
Fisiese eienskappe
| |
Afmetings | 20×16×14 km³ |
Gem. radius | 8,2 ± 2,0 km |
Volume | ~2 345 km3 (geraam) |
Massa | ~2 × 1015 kg (geraam) |
Gem. digtheid | 0,86 g/cm3 |
Oppervlak- aantrekkingskrag | ~0,002 m/s2 |
Ontsnapping- snelheid | ~0,008 km/s |
Rotasieperiode | sinchronies |
Aksiale neiging | Zero |
Temperatuur | ~122 Kelvin |
Adrastea (Grieks: Αδράστεια), ook bekend as Jupiter XV, is die kleinste van Jupiter se vier binnemane en die tweede naaste aan die planeet. Dit is in 1979 deur David C. Jewitt en G. Edward Danielson ontdek op foto's wat deur Voyager 2 geneem is en is die eerste natuurlike satelliet wat ontdek is op foto's van ’n ruimtetuig in plaas van deur ’n teleskoop. Nadat dit die tydelike naam S/1979 J 1 gehad het, is dit hernoem na Adrasteia, die pleegma van Zeus (die Romeinse god Jupiter se naam in die Griekse mitologie).
Dit is een van net drie mane in die sonnestelsel wat om ’n planeet wentel in ’n korter tyd as daardie planeet se dag; die ander twee is Metis (Jupiter) en Phobos (Mars). Dit wentel om Jupiter aan die rand van Jupiter se hoofring en is vermoedelik die hoofverskaffer van materiaal aan die ringstelsel. Baie min is bekend oor die maan buiten sy grootte, ondanks waarnemings in die 1990's deur die Galileo-ruimtetuig.
Kort ná Adrastea se ontdekking is nog twee van Jupiter se binnemane, Thebe en Metis, waargeneem op foto's wat ’n paar weke vroeër deur Voyager 1 geneem is. Die Galileo-ruimtetuig kon die maan se vorm in 1998 vasstel, maar die beelde was swak.
Adrastea het ’n onreëlmatige vorm en is 20×16×14 km groot. Geen oppervlakbesonderhede is bekend nie weens die swak resolusie van die beskikbare foto's.
Adrastea wentel sowat 129 000 km van Jupiter af om die planeet, aan die rand van die hoofring. Omdat Adrastea sinchronies met sy wentelperiode om sy eie as draai, is dieselfde kant altyd na Jupiter gekeer. Sy wentelbaan word geleidelik kleiner en die maan sal eindelik teen Jupiter bots.