Vir die mees bekende voorbeeld, kyk Akropolis van Athene.
Akropolis (ακρόπολις, Gr. akros, akron,[1] boonste of mees ekstreme + polis, stad, meerv. akropoleis) beteken letterlik boonste stad in Grieks. Vir doeleindes van verdediging, het vroeë nedersetters van nature hoogtes verkies, dikwels 'n heuwel wat deur afgronde begrens is. In baie streke van die wêreld, het hierdie vroeë vestings die kerne van groot stede geword, wat in die omsluitende laer land gedy het, soos bv. moderne Rome.
Alhoewel die woord akropolis van Griekse oorsprong is, en hoofsaaklik met Griekse Athene, Argos, Thebe en Korinthe (met lg. se Akrokorinthe) in verband gebring word, kan vestings van hierdie aard meer algemeen herken word, soos byvoorbeeld te Rome, Jerusalem, Keltiese Bratislava, etlike oorde in Klein-Asië, of selfs Castle Rock in Edinburg. 'n Ierse voorbeeld is die Rots van Cashel.
Die beroemde voorbeeld is die Akropolis van Athene,[2] wat weens die historiese verbintenisse daaraan en die verskillende beroemde geboue wat daar opgerig is (veral die Parthenon), sonder verdere kwalifikasie as die Akropolis bekend staan. Alhoewel 'n kenmerk van die Griekse vasteland, het die aanwending van die akropolis-model vinnig gedy na Griekse kolonies soos die Doriese Lato op Kreta in die Argaïese tydperk.
Weens die klassiek Grieks-Romeinse styl daarvan, is die ruïnes van die Sendingstasie van San Juan Capistrano se Groot klipkerk in Kalifornië al die "Amerikaanse akropolis" genoem.
In ander wêreldstreke het ander benamings vir 'n hoë vesting of alcázar ontstaan, wat dikwels 'n kunsmatige versterking van 'n natuurlike vesting is. In sentraal Italië is etlike klein landelike kommunes steeds genestel teen die basis van 'n gefortifiseerde nedersetting, bekend as die La Rocca van die kommune.
Die term akropolis word ook gebruik om die sentrale kompleks van oorvleuelende strukture te beskryf, soos plazas en piramides in verskillende Majastede, insluitend dié van Tikal en Copán.