Amerikaanse digter en skrywer
Literêre stroming
Beat Generation
New American Poets
Hippies
Post-modernisme
Beduidende werke
Howl and other Poems (1956)
Irwin Allen Ginsberg (* 3 Junie 1926 in Newark, New Jersey; † 5 April 1997 in New York) was 'n Amerikaanse digter en skrywer wat onder meer met sy uitgesproke teenkanting teen militarisme, materialisme en seksuele onderdrukking bekendheid verwerf het. In die 1950's was Ginsberg een van die leidende figure van die Beat-generasie.
Sy epiese gedig Howl waarin hy 'n loflied aan sy Beat-generasie-maats ("angel-headed hipsters") sing en felle kritiek op die destruktiewe kragte van kapitalisme en konformiteit in die Verenigde State lewer, word as een van die klassieke werke van die Beat-generasie beskou.[1]
In Oktober 1955 het Ginsberg saam met vyf ander onbekende digters 'n gratis lesing in 'n eksperimentele kunsgalery in San Francisco aangebied. Ginsberg het die gehoor met Howl geëlektrifiseer. Volgens sy digterlike kollega Michael McClure was dit duidelik "dat die damwal gebreek het, dat 'n menslike stem en liggaam teen die harde muur van Amerika en sy ondersteunende leërs en vlote en akademies en instellings en eiendomstelsels en magsbasisse geslinger is."[2]
In 1957 het Howl wye publisiteit geniet toe dit die middelpunt van 'n hofsaak was - 'n staatsaanklaer in San Francisco was van mening dat die werk "vuil, vulgêre, obsene en afstootlike taal" sou bevat.
Die gedig is destyds veral skandalig genoem omdat dit sowel hetero- asook homoseksuele omgang behandel het - in 'n tyd toe sodomiewette homoseksuele omgang in elke Amerikaanse deelstaat onwettig verklaar het. Howl het Ginsberg se homoseksualiteit en sy verhoudings met 'n aantal mans weerspieël, waaronder Peter Orlovsky, sy lewenslange maat.[3] Regter Clayton W. Horn het bevind dat Howl geensins aanstootlik was nie en bygevoeg: "Sou daar sprake van pers- en meningsvryheid wees indien 'n mens sy woordeskat tot vervelende onskadelike eufemismes moes beperk?"[4]
In "Howl" en ander gedigte het Ginsberg inspirasie geput uit die epiese styl en vrye verse van die 19de eeuse Amerikaanse digter Walt Whitman. Albei digters het hartstogtelik oor die belofte (en verraad) van die Amerikaanse demokrasie, die sentrale belangrikheid van erotiese ervaring, en die spirituele soektog na die waarheid van die alledaagse bestaan.[5] J. D. McClatchy, die redakteur van die Yale Review, het na Ginsberg as "die bekendste Amerikaanse digter van sy generasie" verwys wat tegelykertyd "'n maatskaplike krag en 'n literêre fenomeen" was.