Amoksisillien is 'n antibiotikum wat gebruik word vir die behandeling van 'n aantal bakteriële infeksies. Dit sluit onder meer middeloorinfeksie, keelontsteking, longontsteking, velinfeksies en urienweginfeksies in. Dit word gewoonlik per mond geneem, of minder gereeld deur inspuiting.[1][2]
Algemene newe-effekte sluit in naarheid, maagongemak en uitslag.[1] Dit kan ook die risiko van swaminfeksies verhoog en diarree as dit in kombinasie met klavulaansuur gebruik word. Dit moet nie gebruik word by diegene wat allergies is vir penisillien nie. Alhoewel dit bruikbaar is vir mense met nierprobleme, moet die dosis liefs verminder word. Die gebruik daarvan tydens swangerskap en borsvoeding blyk nie skadelik te wees nie. Amoksisillien is 'n lid van die beta-laktamfamilie van antibiotika.
Amoksisillien is een van die semisintetiese penisilliene wat deur Beecham-wetenskaplikes in 1958 ontdek is, en word sedert 1972 medies gebruik.[3][4] Dit is op die Wêreldgesondheidsorganisasie se lys van noodsaaklike medisyne. Dit is een van die mees voorgeskrewe antibiotika, ook by kinders.[5]
Die patentreg op amoksisillien het lank reeds verval, dus word amoksisillien- en ko-amoksiklavpreparate regoor die wêreld onder verskillende handelsname (sg. "generiese medisyne") bemark.[1][6] In 2018 was dit die sewentiende meeste voorgeskrewe medisyne in die Verenigde State, met meer as 31 miljoen voorskrifte.[7][8]
Amoksisillien word gebruik vir die behandeling van 'n aantal infeksies, insluitend akute otitis media, streptokokkale faringitis, longontsteking, velinfeksies, urienweginfeksies, Salmonella-infeksies, Lyme-siekte en chlamydia-infeksies.[1][9]