Anna Achmatowa | |
---|---|
Achmatowa in 1922 (skildery deur Koezma Petrof-Wodkin)
| |
Beroep | Digter, vertaler |
Nasionaliteit | Russies, Sowjet |
Letterkundige beweging | Akmeïsme |
Eggenoot | Nikolai Goemiljof (geskei) Wladimir Sjileiko (geskei) Nikolai Poenin (dood in strafkamp) |
Kinders | Ljef Goemiljof |
Geboortenaam | Anna Andrejewna Gorenko |
Gebore | 23 Junie [O.S. 11 Junie] 1889 |
Oorlede | 5 Maart 1966 |
Anna Achmatowa (Russies en Oekraïens: А́нна Ахма́това;23 Junie [O.S. 11 Junie] 1889 – 5 Maart 1966) was ’n modernistiese digter in Rusland en die Sowjetunie. Sy is gebore as Anna Andrejewna Gorenko (Russies: А́нна Андре́евна Горе́нко; Oekraïens: А́нна Андрі́ївна Горе́нко) en het onder die skuilnaam Anna Achmatowa geskryf.
Achmatowa was een van Rusland se mees gerespekteerde skrywers.[1] Haar werk het gewissel van kort liriese gedigte tot ingewikkeld gestruktureerde siklusse soos Requiem (1935–1940), haar tragiese meesterstuk oor die Stalinistiese terreur. Haar styl, wat gekenmerk word deur spaarsame woordgebruik en emosionele selfbeheersing, was merkwaardig oorspronklik en anders as dié van haar tydgenote. Die sterk, helder vroulike stem het aanklank gevind by aanhangers van Russiese gedigte.[1] Haar werke kan in twee tydperke opgedeel word: dié van 1912 tot 1925 en dié van omstreeks 1936 tot met haar dood. Die twee periodes word geskei deur ’n dekade waarin sy min werk gelewer het.[1] Haar werk is veroordeel en gesensor deur Stalinistiese owerhede en dit is merkwaardig dat sy nie geëmigreer het nie, maar in Rusland gebly het as ooggetuie van die destydse gruweldade. Haar blywende temas sluit in meditasies oor herinneringe en tyd asook die probleme van lewe en skryf in die skadu van Stalinisme.
Primêre bronne met inligting oor Achmatowa se lewe is taamlik skaars omdat baie van die geskrewe rekords vernietig is tydens die oorlog, rewolusie en totalitêre regime. Sy was vir lang tydperke in amptelike onguns en baie van die mense na aan haar is in die gebeure ná die rewolusie dood.[2]