Bloemfontein Mangaung (st) ǀʼAuxa ǃXās | |
---|---|
Stad | |
'n Uitsig oor Bloemfontein | |
Byname: Rosestad | |
Leuse(s): "Floreat" ("Laat dit blom") | |
Koördinate: 29°7′11″S 26°13′30″O / 29.11972°S 26.22500°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Vrystaat |
Munisipaliteit | Mangaung |
Stigting | 1846[2][3] |
Regering | |
• Burgemeester | Gregory Nthatisi (ANC) |
Oppervlak | |
• Stad | 236,17 km2 (91,19 vk. myl) |
• Metro | 6 283,99 km2 (2 426,26 vk. myl) |
Hoogte | 1 395 m (4 577 ft) |
Bevolking (2021) | |
• Stad | 528 000[1] |
• Skatting (2011) | 256 185 |
• Metro | 747 431 |
• Metrodigtheid | 120/km2 (300/vk. myl) |
Demoniem(e) | Bloemfonteiners |
Rasverdeling (2021) | |
• Wit mense | 29,8% |
• Indiërs/Asiërs | 0,8% |
• Bruin mense | 12,8% |
• Swart mense | 56,1% |
• Ander | 9,5% |
Taal (2021) | |
• Afrikaans | 42,5% |
• Suid-Sotho | 33,4% |
• Engels | 7,5% |
• Xhosa | 7,1% |
• Ander | 9,5% |
Poskode (strate) | 9300 |
Poskode (posbusse) | 9301 |
Skakelkode | 051 |
Webwerf | Mangaung-munisipaliteit |
Bloemfontein is die hoofstad van die Suid-Afrikaanse provinsie Vrystaat en die land se sesde grootste stad. Dit is ook sedert 1910 Suid-Afrika se regterlike hoofstad (een van die land se drie hoofstede).[4] Suid-Afrika se hoogste hof, die Konstitusionele Hof, is egter sedert 1994 in Johannesburg gesetel.[5][6][7] Bloemfontein staan informeel as Bloem bekend en word in Suid-Sotho Mangaung ("plek van die jagluiperde") genoem en deur die Griekwas ǀʼAuxa ǃXās.[8] Die stad beslaan 'n oppervlakte van 236 vierkante kilometer en het 'n bevolking van sowat 528 000.[1] Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, waarvan dit deel is, het 'n bevolking van 747 431.[9] Bloemfontein lê op 'n hoogte van 1 395 m bo seevlak. Sedert 2023 dien Gregory Nthatisi van die African National Congress (ANC) as uitvoerende burgemeester van Bloemfontein en omstreke.[10]
Bloemfontein lê in die hart van die Vrystaat se sentrale plato en is een van die min stede met 'n wildtuin in sy sentrum, bo-op Naval Hill. Bloemfontein staan nog steeds vir sy blommeprag en die voormalige Rosefees bekend en het die bynaam Rosestad. Die stad is geleë in die middel van die land, waarvolgens dit ook "Sentraal-Suid-Afrika" genoem word.[11][12][13]
Die stad het sy oorsprong in 'n Britse fort en nedersetting wat in 1846 deur majoor Henry Douglas Warden in die destydse Transoranje-streek gevestig is. Dit het vervolgens as administratiewe setel van die Britse kolonie Oranjerivier-soewereiniteit (1848–1854) en die onafhanklike Boererepubliek Oranje-Vrystaat gedien wat in 1854 gestig is. Tussen Mei en Junie 1899 is die historiese Bloemfontein-konferensie hier gehou as 'n laaste vergeefse poging om 'n militêre konflik tussen die destydse Boererepublieke en die Britse Ryk te vermy. In die 20ste eeu het Bloemfontein tot die geografiese spilpunt van Suid-Afrika se spoorwegnetwerk ontwikkel. Sowat 160 km noordoos van Bloemfontein het 'n groot ekonomiese opswaai vanaf 1948 met die ontginning van die Vrystaatse Goudveld begin. Later, vanaf 1962, het die gebied sentraal gestaan in die verwesenliking van die Oranjerivierprojek met sy waterkragsentrales en besproeiingskemas.
Vandag is Bloemfontein 'n moderne stad met wolkekrabbers, winkelsentrums en restaurante; en die Sand du Plessis-teater as een van sy kenmerkendste argitektoniese besienswaardighede. Tegelykertyd het Bloemfontein sy kulturele erfenis bewaar en die stad spog met pragtige historiese geboue soos die Raadsaal, een van die mooistes in Suid-Afrika. In die stad is die Hoogste Hof van Appèl, Franklin-wildreservaat, Naval Hill, Maselspoort-ontspanningsoord en die Sand du Plessis-teaterkompleks geleë. Die stad beskik ook oor 'n aantal museums, waaronder die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, die Nasionale Vrouemonument, die Anglo-Boereoorlogmuseum, die Nasionale Museum en die Oliewenhuis Kunsmuseum. Bloemfontein spog ook met die eerste digitale planetarium in die Suidelike Halfrond, die Naval Hill-planetarium, en die Boyden-observatorium, 'n sterrekundige navorsingssterrewag.