Mokgadi Caster Semenya[1] OIB (* Ga-Masehlong, naby Polokwane, 7 Januarie 1991) is 'n Suid-Afrikaanse middelafstandatleet wat in die 800 m-item spesialiseer. Sy het in hierdie baanitem Suid-Afrikaanse en wêreldkampioen geword.
Op 6 Julie 2010 het die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) toestemming verleen dat sy weer teen vroueatlete mag deelneem, na uitgerekte spekulasie oor haar geslag.[2] Sy wen haar eerste wedloop na haar hertoetrede toe sy op 15 Julie 2010 gemaklik met 'n tyd van 2:04.22 by die Lappeenranta-spele in Finland wen.[3]
Tydens die Olimpiese Somerspele van 2012 wen sy 'n silwermedalje in die 800 m-wedloop, wat later deur die IOK opgegradeer is na goud. Semenya het by die openingseremonie die Suid-Afrikaanse vlag gedra.[4]
Op 20 Augustus 2016 wen sy 'n goue medalje in die 800 m-wedloop by die Olimpiese Spele van 2016 in Rio de Janeiro, in 'n tyd van 1:55.28.[5]