Colin Fraser

Ds. Colin Fraser.
Ds. Colin Fraser en sy tweede vrou, 'n nooi Sieberhagen.

Ds. Colin Alexander Fraser (Killernan, Rosshire, Skotland, 28 November 1796 - Beaufort-Wes, 25 September, 1870) was een van die Skotse predikante wat goewerneur lord Charles Somerset na Suid-Afrika laat kom het om die tekort aan predikante in die Nederduitse Gereformeerde Kerk te verlig, maar veral om die lidmate te verengels.

Hy was die seun van Alexander Fraser en Lilian McDonald en het die lewenslig op Killernan in die graafskap Ross in Skotland aanskou. Nadat hy die M.A.-graad aan die King's College in Aberdeen behaal het, het hy sy studie in die godgeleerdheid aan dieselfde universiteit sowel as Marischal College voortgesit en voltooi. In Junie 1824 is hy deur die Presbytery of Chanonny geëksamineer en bevorder tot kandidaat in die heilige diens. Kort tevore het goewerneur lord Charles Somerset juis vir dr. George Thom, predikant van Caledon, na Skotland gestuur om predikante en sendelinge vir die Kerk te verkry. Een van die jong manne wat op sy aandrang hom bereid verklaar het om na Suid-Afrika te kom, was Colin Fraser. Nadat hy 'n paar maande Utrecht vertoef het om kennis van die Hollandse taal op te doen, het hy skeepgegaan te Inverness en het op 18 Desember 1824 voet aan wal gesit in Tafelbaai. Op aandrang van die destydse Britse Sekretaris van Kolonies, graaf Bathurst, het goewerneur Somerset hom dadelik aangestel as predikant van die toe reeds twaalf maande lange vakante NG gemeente Beaufort-Wes, waar hy dan ook op 19 Januarie 1825 deur ds. Andrew Murray van die NG gemeente Graaff-Reinet bevestig is. Dit was sowat twee jaar nadat Murray in diens getree het van die gemeente wat hy sy lewe lank sou bearbei. Fraser was die tweede leraar van die NG gemeente Beaufort-Wes, die opvolger van ds. John Taylor, eweneens 'n Skot.


Colin Fraser

Dodaje.pl - Ogłoszenia lokalne